Drie beseer toe motor teen boom vasslinger

Nooddienste op die toneel in Meyerton (Foto: ER24)

Drie mense van Meyerton in Gauteng is in ʼn ernstige toestand in die hospitaal opgeneem nadat hulle laat Woensdagaand beheer oor hul voertuig verloor het voor hy getol en teen ʼn boom vasgeslinger het.

Werner Vermaak, ER24-woordvoerder, sê die bestuurder van die motor en die passasier wat agter in die motor gesit het, het matige beserings opgedoen.

ʼn Derde persoon, die vrou wat voor in die kar gesit het, moes deur die brandweer- en reddingsdiens uit die motorwrak gesny word. Sy is ernstig beseer en per helikopter na die hospitaal gehaas.

Die twee ander beseerdes is per ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

Vermaak sê al drie pasiënte sterk tans aan in die hospitaal.

ʼn Ondersoek na die voorval duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Bome ·

Die derde ongeluk binne sowat ‘n week in hierdie geweste met bome. Iewers is daar GROOT fout. Het dit dalk ook te doene met bestuursvernuf? Ek reken so. Ja, spoed kan ongelukke veroorsaak maar dan is dit onoordeelkundige spoed. Deur te slaap op die pad kan ook ongelukke veroorsaak deur jouself of om ‘n frustrasie vir ander motoriste te wees. Weereens is K53 nie voldoende om jou te leer om ‘n voertuig op die pad te hou selfs wanneer jy fouteer. Na 57 jaar op die pad sonder ‘n ongeluk behoort ek te weet waarvan ek praat. In my jong dae het ons gereeld op ‘n ovaal grondbaan naby Evander gekyk wie kan die vinnigste tyd opstel. En die ongelukke? . . . GEEN!! Dit was die grootste genot om dwars om die baan te ry. Dit tesame met tydrenne het gemaak dat ek vandag redelik weet wat om te doen in ‘n noodsituasie.
Kortweg moet jy jou oë oop hou en so 100/110 km/h is oor die algemeen vinnig genoeg MAAR pas jou spoed aan by padomstandighede. Daardie bordjie wat wys ‘120’ moet jou nie onder die indruk bring dat dit is wat jy MOET ry.

Tanya ·

Bome, met alle respek gesê, ons leef nie meer in “daardie tyd” nie. Daar word jaarliks motors gemaak wat al hoe vinniger kan ry. Mense onderskat hulle voertuie. Spoed maak dood. Ek het self ondervind waar jong seuns met ‘n Golf GTI verby my jaag en ek self het op daardie stadium 140km pu gery (ja ek weet dit was vinnig en dit was verkeerd) en slegs 2 km verder waar hulle my verby gevat het, gerol het. Weereens spoed en arrogansie. Waarom ‘n voertuig vervaardig wat tot 300km per uur kan ry as dit onwettig is?

cor ·

Dit is erg deesdae as jy n koerant oopmaak sien jy van ‘n motor wat getol het en die pad verlaat en gerol het. Nou wonder ek is daar dalk iets fout met die motors se stuur stelsels datdit herroep moet word of is dit swak bestuurs opleiding / ondervinding. In my 50 jaar as voertuig bestuurder het ek nog nie van soveel soort gelyke ongelukke gehoor soos die afgelope paar jaar nie.

KLEINTJIE ·

Nee ek skryf dit hoofsaaklik toe aan ons paaie se toestand, slaggate uitgrawings, klippe deurbetogers in pad geplaas. en dan ook geen verkeersbeheer deur opgeleide persone.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.