Drie bestuurders dood in soortgelyke ongelukke

Die bestuurder het sy lewe verloor in die ongeluk op die M19. Foto: Rescue Care

Paramedici van Rescue Care in Durban het Saterdagnag hul hande vol gehad terwyl hulle na talle ongelukstonele ontbied is.

Net ná 22:00 het hulle ʼn oproep ontvang van ʼn ernstige botsing waar ʼn enkele voertuig die N3-snelweg tussen die Pavilion en Spaghetti-aansluiting verlaat het.

Die voertuig het die snelweg verlaat en teen ʼn hoogte langs die pad afgestort voor dit op sy dak teen ʼn grensmuur in Cowenweg in Westville tot stilstand gekom het, sê Garrith Jamieson, Rescue Care-woordvoerder.

Die bestuurder is in die wrak vasgevang en het ernstige beserings opgedoen. “Ongelukkig kon paramedici niks vir hom doen nie en is hy op die toneel dood verklaar,” sê Jamieson. “Sy passasier het matige beserings opgedoen en is op die toneel gestabiliseer voor hy na ʼn nabygeleë hospitaal gebring is.”

Nie lank daarna nie, net ná 22:30, is Rescue Care se paramedici na die M19 naby Otto Volek ontbied waar ʼn motor gerol het. “Die bestuurder is uit die voertuig geslinger en het ernstige beserings opgedoen,” sê Jamieson. “Ongelukkig kon hulle vir hom niks doen nie aangesien hy reeds dood was.”

Omstreeks 04:00 Sondag is paramedici na die derde ongelukstoneel ontbied, dié keer op die N2 naby die Galleria Mall-omgewing waar nog ʼn voertuig gerol het.

“Die bestuurder het ernstige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar,” vertel Jamieson. “Sy vier passasiers se beserings wissel van matig tot ernstig. Hulle is op die toneel behandel voor hulle na verskeie Durbanse hospitale gebring is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

D P ·

Die veiligheid lyk my is nie meer van SADS standaarde nie.
Insitendes word by motors uit geslinger met ‘n ongeluk!!!!

D P ·

Die veiligheid gordels lyk my is nie meer van SADS standaarde nie.
Insitendes word by motors uit geslinger met ‘n ongeluk!!!!

PJC ·

Die vakansie het nog nie eers begin nie en dit gaan al so. Die slagting op die paaie gaan net toeneem want daar is geen wet en orde nie.

Linda ·

Dis net die begin van Desember. Mense het bonusse ontvang en die drank die vloei !! Wenners weet nie waar om te stop nie !!! Bottel na bottel moet leeg wees !!!

At Dippenaar ·

Maroela, nav die tweede ongeluk net een vraag. Hoe kan jy eers ernstige beserings opdoen en dan op slag dood wees?

Morné van Rooyen ·

Dagsê At,
Dankie vir jou oplettendheid. Maak dit nou meer sin?
Groete,
Morné nms. Maroela Media

At Dippenaar ·

Baie beter Morne. Ongelukkig het ek ‘n irriterende oog vir sulke detail. Maroela bly my gunsteling bron van nuus.

Peet Schabort ·

In my 58 jaar agter die stuur was ek goddank nie agter die stuur van ‘n omval-voertuig. Een vd dae gaan my kleinseun vir sy bestuurslisensie. Oupa sal hom gaan leer hoé word daar bestuur terwyl jy in beheer bly selfs om dwars te gly op ‘n grondpad om die draaie. Daar MOET geleer word oor die gedrag van ‘n voertuig wat sogenaamd ’buite beheer’ raak. Daar is GEEN alternatief as om die praktiese uitvoering daarvan te doen. Ek het met ‘n klompie tydrenne en ‘n grondbaan buite Evander waardevolle lesse geleer SONDER ongelukke. Daar is ook ‘n groot verskil tussen voorwiel- en agterwiel aandrywing. Dis waar oorstuur (oversteer) en onderstuur (understeer) in die prentjie kom met die omgooi van ‘n voertuig. Al verskil is dat jy in die pad land met ‘oversteer’ en in die mielieland met ‘understeer. Die eindresultaat is egter dieselfde. Ek sien hierdie naweek ook die windgat-laaities in ons dorp. Jy as ouer het ‘n verpligting om daardie kind van jou na ‘n opleidingsentrum te neem soos wat ek Januariemaand was by BMW op Zwartkops. Wat ‘n plesier om die gevorderde kursus te doen en om nog by te leer selfs na 57 jaar op die pad. Daardie BMW M3 teen 1min. 26sek. oor 2.5km. om die baan gee my 104,7km/h. Nie té vrotsig vir ‘n oue van 75jaar en wat maar ‘n 1300 Ikon ry. Ja, R5000 is ‘n klomp geld maar begrafnisse/hospitale is duurder.

Ralph ·

Sjoe maar Durban is knaend in die nuus met noodlottige ongelukke.

IK ·

Trink trink Brüderlein trink
lass all die Sorgen zum Haus
kaufst du ein Auto
und fahr gegen ein Baum
dann ist das Leben ein traum.
Overgezet sijnde:
Drink drink broers drink en los al die sorge tuis. Koop ‘n motor en ry vas teen ‘n boom. Dan is die lewe ‘n droom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.