Drie verdagtes is Sondag in Steinkopf in die Noord-Kaap in hegtenis geneem nadat beskermde plante ter waarde van derduisende rande in hul besit gevind is.
Lede van die Springbok-veediefstal en bedreigdespesie-eenheid onder aanvoering van kapt. Karel du Toit het Sondag twee verdagtes in hegtenis geneem nadat hulle met meer as 3 000 vetplante ter waarde van R400 000 betrap is.
Die twee verdagtes, 25 en 27 jaar oud, is ook met behulp van die Namakwa-misdaadintelligensie- en die Springbok-honde-eenheid vasgetrek.
In ʼn afsonderlike geval is ʼn 35-jarige man ook Sondag in Steinkopf in hegtenis geneem. Hy is betrap met vetplante ter waarde van R100 000.
Die drie verdagtes sal na verwagting vandag in die Springbok-landdroshof verskyn op aanklag van die onwettige besit van beskermde plante.
Genl.maj. Henriette de Waal, waarnemende provinsiale kommissaris in die Noord-Kaap, het die betrokke lede geloof vir hul optrede wat gelei het tot die geslaagde inhegtenisneming van die verdagtes.
- (Foto: Verskaf)
- (Foto: Verskaf)