Drie bewaarders by PE-tronk aangeval

Argieffoto

Drie tronkbewaarders by die St Albans- korrektiewe sentrum in Port Elizabeth is Donderdag deur gevangenes met skerp voorwerpe aangeval.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het gesê die voorval het omstreeks 11:30 plaasgevind toe beamptes besig was om deure te sluit ná verpligte oefeninge waaraan oortreders daagliks moet deelneem.

“Al drie beamptes het mediese behandeling ontvang en is in ʼn stabiele toestand. Die departement sal seker maak dat hulle die beste behandeling ontvang en ons wens hulle ʼn spoedige beterskap toe,” het Nxumalo bygevoeg.

Alhoewel die betrokke gevangenes geïdentifiseer is, sal ʼn interne ondersoek gedoen word om verdere besonderhede te bepaal. “Die voorval is by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangemeld sodat ʼn strafregtelike saak kan volg.”

Nxumalo het gesê dit is duidelik ʼn geval van “boewery” en sal nie geduld word nie. “Dit word ten sterkste veroordeel. Die departement sal geen steen onaangeroer laat om seker te maak dat alle betrokke partye aangekeer word en die gereg sy gang gaan nie. Die departement sal die gedrag van oortreders verder monitor en van enige elemente ontslae raak wat veiligheid in ons sentra bedreig kragtens die Wet op Korrektiewe Dienste.”

Die African News Agency (ANA) het berig die drie beamptes is in ʼn enkele sel deur ses gevangenes aangeval. Die beamptes het glo steekwonde in die kop opgedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Eish ·

Oortreders is in tronk, so is ontslae raak van hulle dat hul vrygelaat word?

Koos de Meyer. ·

Niks nuut in ons siek land nie. Die skuim het mos ‘n koninklike lewe in die tronk.

Eddy ·

As jy klomp sokker spelers bymekaar sit ,sal hulle gesels oor sokker en later bring iemand n bal en almal skop saam want dis wat hulle in gemeen het.Dieselfde as jy n klomp geweldenaars en misdadigers saamsit.Hulle dink geweldadig en gaan voort met geweldadigheid.So hoekom sit ons gevaarlike kriminele bymekaar.?Ons sien dan hulle val sommer bewaarders aan ,vir die pret of om bevordering in die tronkbende hierargie te kry.Daar is mos nie kans vir rehabiliasie nie want jou selmaats is dan nog kriminele.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.