Drie boeties sterf by skool

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

Drie boeties van onderskeidelik ses, 13 en 16 jaar oud is Donderdagoggend by hul onderskeie skole in Ratanda, suid van Heidelberg in Gauteng, dood.

Luidens ʼn verklaring deur die Gautengse onderwysdepartement was die jongste seun ʼn leerder aan Ratanda Primary, terwyl die twee ouer sibbe by Khanya Lesedi Secondary School skoolgegaan het.

Die oorsaak van hul dood is nog nie bekend nie en word tans deur die polisie ondersoek.

Daar word in dié stadium beweer dat die boeties ʼn energiedrankie gedrink het wat hul pa vroeër die oggend aan hulle en nog twee sibbe gegee het.

Twee van die betrokke leerders is dood kort nadat hulle by die skool aangekom en van maagpyn gekla het. Die derde broer is na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas, maar op pad daarheen dood.

ʼn Vierde sib – wie se ouderdom nie bekend is nie – is tans in ʼn bedenklike toestand in ʼn hospitaal.

Die vyfde kind het na bewering nie die betrokke energiedrankie gedrink nie.

“Eerstens wil ek my innige meegevoel aan die familie, veral die ma, van die oorlede leerders betuig. Ek betuig verder my meegevoel aan vriende, medeleerders en onderwysers van die leerders, veral diegene wat hierdie tragiese voorvalle aanskou het,” het Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, Donderdag in ʼn verklaring gesê.

Die departement het sy sielkundig-maatskaplike ondersteuningseenheid na die betrokke skole gestuur om berading aan die skoolgemeenskap en bedroefde gesinne te bied. Lesufi beplan glo om môre ʼn besoek by dié gesinne en die onderskeie skole af te lê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Mariana ·

Klink verdag. Ondersoek pa en die energiedrankie. Kinders behoort geensins die goed te drink nie.

AW ·

Maak die nou enige SIN !!!

Ek wil met die Pa praat en met die Persoon van wie hy dit gekoop het !!

JohanR ·

Baie tragies. Stem met Mariana…..kinders besef nie hoeveel kafeïen daar in ‘n enetgiedrankie is nie. Het lankal op gehou om Red Bull te drink, want ek kan voel hoe my hart doef doef doef. Kinders dink Red Bull en ander energierankies is koeldrink. In die geval het Pa, of by wie hy dit gekoop het miskien die drankie nog meer woema gegee, en nou is drie kinders weg.

Niel ·

Glo die energiedrankie was maar net daar om die gifsmaak te verbloem

Carin ·

Dalk was die pa onskuldig? En iets verkeerd met die drankies. Mens moet bietjie meer weet. Tot dan, sterkte en meegevoel aan die pa ook. As dit regtig net ‘n ongeluk was van sy kant af, hoe op aarde sal hy met homself saamleef vir die res van sy lewe?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.