Drie broers by inisiasieskool doodgeskiet

Argieffoto (Foto: Dingeman, Wikimedia Commons)

Drie broers is dood en ʼn vierde broer veg om sy lewe na ʼn skietvoorval by ʼn inisiasieskool in die Oos-Kaap.

Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, is die oupa van die slagoffers Dinsdag in die vroeë oggendure deur gemeenskapslede oor die skietvoorval by die inisiasieskool in Nqamakwe naby Butterworth ingelig.

“Gemeenskapslede het gaan ondersoek instel en op die liggame van die drie broers, tussen 18 en 26 jaar oud, afgekom.” ʼn Vierde broer (22) is in sy bolyf geskiet en is in die hospitaal opgeneem.

Die verdagte(s) is in dié stadium onbekend en die motief vir die skietery moet nog vasgestel word. Die polisie ondersoek drie sake van moord en een van poging tot moord.

Die provinsiale departement van samewerkende regering en tradisionele sake het gesê hy gee sy samewerking aan die polisie in verband met die voorval.

Lt.genl. Nomthetheleli Mene, provinsiale polisiekommissaris, het die voorval veroordeel.

“Die polisie is daartoe verbind om die oortreder(s) te laat boet en ons sal alles in ons vermoë doen om aanspreeklikheid vir hierdie gruwelike daad te verseker. Die verlies aan jong lewens, veral van een gesin, is verwoestend en ons dra ons meegevoel aan die familie oor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.