Drie dán weer in hof ná moord op Potch-man

Sias Willemse en sy vrou, Tobianna (Foto: Facebook)

Die twee broers en hul suster wat tereg staan op aanklag van moord op die bekende oudrugby- en oudkrieketspeler van Potchefstroom, Sias Willemse (74), het Dinsdag in die landdroshof op dié dorp verskyn.

Volgens Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes, het die drie aangeklaagdes, Meriam Mahlapa (20), Petrus Mahlapa (24) en Andries Mahlapa (28), besluit om nie om borgtog aansoek te doen nie.

Hulle sal in aanhouding bly tot en met hul volgende hofverskyning op 16 November.

Die drie is sowat twee weke gelede in Ikageng in hegtenis geneem. Volgens berigte het van die aangeklaagdes voorheen vir Willemse gewerk.

’n Paar lede van die Potchefstroomse gemeenskap het die oggend voor die hof byeengekom in ’n vreedsame optog. Die groep mense het voor die hofverrigtinge plakkate waarop staan “Ons soek geregtigheid” hoog in die lug laat wapper.

’n Kerkdiens is ook die oggend vroeg ter gedagtenis van Willemse in die Nederduits-Hervormde Kerk in Wolmaransstraat op Potchefstroom gehou.

Willemse se liggaam is op 22 September in sy huis in Bailliepark in Potchefstroom gevind. Hy is met twee skietwonde in sy nek aangetref. Daar was ook verskeie dasse om sy nek vasgebind.

Willemse is beskryf as ʼn “groot rugbygees en ywerige krieketman” en ʼn ware “Potch-legende”. Hy is ʼn oud-Puk- en Wes-Transvaalse krieketspeler. Hy het ook op sy dag die Potch Dorp-rugbyklub as kranige speler op die veld verteenwoordig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.