Drie mense is dood en 11 beseer toe ʼn bakkie, minibustaxi en ligte voertuig Dinsdag op die R25 in Bapsfontein in Gauteng gebots het.
Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê paramedici is die oggend omstreeks 08:11 na die ongelukstoneel ontbied. Ander nooddienste soos ER24 is ook na die toneel ontbied.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê met die aankoms van paramedici op die ongelukstoneel het hulle die bakkie se wrak in die middel van die pad aangetref. Die ligte voertuig was langs die pad in vlamme gehul. Die minibustaxi het ʼn entjie verder langs die pad gestaan.
Herbst sê die Ekurhuleni-brand-en-reddingsdienste het die brandende voertuig probeer blus terwyl paramedici die beseerde insittendes begin behandel het. Die voertuig het omtrent heeltemal uitgebrand.
“Twee mans was onderskeidelik in die bakkie en ligte voertuig vasgekeer. Albei het op die toneel aan hul beserings beswyk,” sê Meiring.
Altesaam 12 ander insittendes is op die toneel behandel. Vyf van hulle was in ʼn kritieke toestand terwyl die ander sewe geringe tot matige beserings opgedoen het.
Volgens Herbst het een van die beseerdes ook intussen aan sy beserings beswyk.
Die insittendes wat in ʼn kritieke toestand was, is per helikopter na ʼn hospitaal geneem. Die oorblywende pasiënte is met ambulanse na nabygeleë hospitale geneem.
Die polisie was op die toneel om ondersoek in te stel. Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.
- ‘n Man was in die bakkie vasgekeer (Foto: Verskaf)
- Die ligte voertuig het aan die brand geslaan (Foto: Verskaf)
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
1 Kommentaar
So jammer vir die familie.