Drie dood, 7 beseer in Gauteng-botsings

Die ongelukstoneel toe ʼn laaigraaf en ʼn ligte voertuig reg van voor in die Johannesburgse sakesentrum gebots het. Foto: ER24

Drie mense is dood en sewe beseer in verskillende padongelukke Saterdag in Gauteng.

Saterdagaand is een man dood en twee mense beseer toe ʼn laaigraaf en ʼn ligte voertuig reg van voor in die Johannesburgse sakesentrum gebots het. Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici het by hul aankoms op die toneel die twee voertuie in die middel van die aansluiting aangetref.

“By nadere ondersoek het paramedici die liggaam van ʼn man in die ligte voertuig aangetref. Daar was niks wat meer vir hom gedoen kon word nie en hy is dood verklaar,” sê Meiring.

Twee ander pasiënte is op die toneel behandel en na nabygeleë hospitale gebring.

Intussen het nog ʼn motoris gesterf in ʼn ernstige ongeluk omstreeks 18:15 op die N17 in Germiston aan die Oos-Rand. Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê dit lyk asof die bestuurder van ʼn bakkie beheer verloor en die voertuig op die snelweg omgeslaan het.

“’n Man is op die toneel dood verklaar. Sy passasier, ʼn vrou, het ernstige beserings opgedoen en is op die toneel behandel voordat sy na ʼn hospitaal gehaas is,” sê Herbst.

Die ongelukstoneel by die N3/N1-verdeling. Foto: Netcare 911

Dié ongelukke was egter nie die enigste noodlottige ongelukke wat Saterdag in die provinsie plaasgevind het nie. Netcare 911-paramedici is ook omstreeks 14:10 na die toneel van ʼn ernstige botsing by die N3/N1-verdeling ontbied.

Herbst sê ʼn ligte voertuig en drie motorfietse was by dié botsing betrokke. Een van die motorfietsryers het op die toneel gesterf, terwyl die twee ander motorfietsryers matige beserings opgedoen het. Hulle is per ambulans na hospitale gebring.

Die oorsaak van die ongeluk word nog ondersoek.

Ook Saterdagmiddag is ʼn man en ʼn 11-jarige meisie beseer toe ʼn ligte voertuig van agter teen ʼn taxi op Annanweg in Carletonville vasgery het. Volgens Meiring het die meisie ernstige beserings opgedoen, terwyl die man slegs gering beseer was.

Die twee is albei op die ongelukstoneel behandel voordat hulle na The Fountain Private Hospitaal in Carletonville gehaas is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gert ·

Wat soek laai grawe op die pad , dit moet met trokke vervoer word tot waar dit die werk moet gaan doen .Daardie goed kan maksiemum spoed van 30 tot 40 km op die pad ry en is n gevaar vir motoriste.

Laai ·

Deesdae is die paaie vol laaigrawe nadat die wettelose linkses die land oorgevat het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.