Drie dood, 70 beseer toe bus omslaan

Die nooddienste op die toneel waar die Scania-bus omgeslaan het. (Foto: Verskaf)

Drie mense is dood en minstens 70 beseer toe ’n bus Maandagoggend op die N1-Noord in Limpopo omgeslaan het. Dit is die soveelste ongeluk op dié hoofroete sedert die aanvang van die afgelope feesseisoen.

Die jongste voorval het vroegoggend in Matoks, sowat 40 km buite Polokwane, plaasgevind.

Mike Maringa, woordvoerder van die provinsiale departement van vervoer, sê die bestuurder van die Scania-bus het na bewering te vinnig gery, beheer oor die voertuig verloor en ’n kragpaal getref. Die bus het daarna omgeslaan en na bewering gerol.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê die bus het omstreeks 06:30 by die nooddienste se aankoms op die toneel regop langs die pad gestaan. Talle passasiers het in dié stadium op die toneel rondgeloop terwyl ander in die bus gesit het.

Die nooddienste op die toneel waar die Scania-bus omgeslaan het. (Foto: Verskaf)

Paramedici het ʼn tydelike assesseringsentrum opgestel waar hulle beseerdes se toestand onmiddellik kon bepaal en hulle kon behandel.

Meiring sê twee vroue en ’n man is op die toneel dood verklaar.

Minstens 70 ander het geringe tot ernstige beserings opgedoen en is op die toneel behandel voordat hulle deur verskeie ambulansdienste na hospitale vervoer is.

Die owerhede was vanoggend op die toneel om ondersoek in te stel.

Maringa sê roekelose en nalatige bestuur word as ʼn moontlike oorsaak van die ongeluk oorweeg.

Maroela Media het vroeër berig vier mense is Saterdagaand in ’n motorongeluk op die N1‑Noord naby die Capricorn-tolplaza in Limpopo dood.

Dít terwyl ’n trompop botsing op die N1‑Suid naby Modimolle (Nylstroom) dieselfde aand die lewe van twee ander geëis het.

Ses mense, insluitend vier kinders en twee volwassenes, is Vrydag op Oujaarsdag dood in ʼn ongeluk op die N1 naby Mokopane (Potgietersrus), ongeveer 55 km buite Polokwane.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alexander

Hierdie pad kan netsowel as die pad van die dood bekend staan. Daar is soveel swape sonder lisensie of vervalste lisensie wat hierdie pad gebruik, om nie eens te praat van beskonke bestuurder agter die stuurwiel nie. En dan is die wetstoepassers nog korrup ook. Ek vermoed die sterftesyfer op hierdie pad moet baie na aan die sterftesyfer by die N1 tussen Leeu-Gamka en Laingsburg wees.

Anel

As ons ‘n behoorlik spoorstelsel gehad het, sou so iets nie gebeur het nie. Ek was nogal luef vir treinry. Maar nou ja, alles onder ANC bewing moet tot niet gemaak word, selfs menselewens!!! Op die oomblik gaan meer mense dood in padongelukke as aan die virus!!! En drank speel nie eens ‘n rol nie. So wie maak die hospitale nou vol???

KB

Spoed, spoed, spoed…ek dag hulle mag max 100kmh ry?!
Wie sit agter daardie stuur?!