Drie dood in 2 ongelukke ure uit mekaar

Die ongelukstoneel buite Ermelo in Mpumalanga. Foto: ER24

Drie mense is Maandagmiddag dood in twee verskillende padongelukke wat net ure uit mekaar in onderskeidelik Mpumalanga en Gauteng plaasgevind het.

In een ongeluk is twee mans dood nadat hul voertuig op die Lothair‑pad buite Ermelo gerol het. Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici is omstreeks 12:05 na die toneel ontbied waar hulle die voertuig op sy dak in die regterkantste baan aangetref het. “Twee mans het ʼn kort ent weg van die voertuig af gelê,” het Meiring gesê.

Paramedici het die mans ondersoek en gevind dat hulle veelvuldige beserings opgedoen en geen tekens meer van lewe getoon het nie. Hulle is op die toneel dood verklaar.

Die ongelukstoneel in Roshnee, Vereeniging. Foto: ER24

In nóg ʼn ongeluk die middag is ʼn man dood toe ʼn ligte voertuig en ʼn vragmotor reg van voor op die R82 in Roshnee, Vereeniging, gebots het.

“By paramedici se aankoms het hulle die wrak van die ligte voertuig langs die pad aangetref. Die vragmotor het ʼn kort ent verder gestaan,” het Meiring gesê. “By nadere ondersoek is die liggaam van ʼn man gevind waar dit in die ligte voertuig vasgekeer was. Hy het geen tekens van lewe getoon nie.”

Die vragmotorbestuurder was ongedeerd.

Albei ongelukke sal deur die owerhede ondersoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

waarheid ·

As dit nou al so gaan wil ek nie weet hoe dit in die Desember vakansie gaan wees nie.
‘n Groot slagting. Bly eerder van die pad af.

Veronica ·

Vragmotor bestuurders is meestal deur genade van bo ongedeerd . . .
Wat beteken dat die hoë voertuig met sterk kajuit n plus punt MOET WEES!
Wat kan voertuig vervaardigers anders doen om voertuie veiliger te ontwerp???
Daar moet n oplossing wees . . .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.