Drie dood in Oos-Kaapse vloede

Swaar reën het talle paaie in die Oos-Kaap beskadig. (Foto: Facebook/ OR Tambo district municipality)

Drie mense is dood en een word steeds vermis nadat swaar reën sedert Donderdag in die Oos-Kaap uitgesak het. Nie minder nie as tien brûe het ook in Port St. Johns weggespoel en ander paaie en geboue is beskadig.

Die OR Tambo-distriksmunisipaliteit het Saterdag gesê twee van die drie mense wat Vrydag vermis geraak het, se liggame is intussen gevind. Polisieduikers soek nog na die derde persoon. Nog iemand is dood nadat hy op die rotse by Koffiebaai gegly en in die see geval het terwyl hy visgevang het. Volgens die Dispatch Live is die man ʼn 25-jarige Duitse toeris.

Volgens die munisipaliteit het die oorstromings ʼn pad van verwoesting gesaai en huise, sakeondernemings en infrastruktuur beskadig. Brûe wat in Port St. Johns weggespoel het, het dit vir lede van die gemeenskap moeilik gemaak om by skole en ander fasiliteite uit te kom.

Maroela Media het Vrydag berig duisende mense moes hul huise en ondernemings ontruim en talle paaie en huise is onder water.

Eskom het ook Vrydagaand gesê van die gebiede in die Oos-Kaap is steeds sonder krag nadat storms die kragtoevoer na die gebied belemmer het. Tecnici werk onverpoos om die probleem op te los.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het intussen nóg reën vir Saterdag en Sondag in die Oos-Kaap voorspel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.