Drie dood in Sasolburg-botsing

Argieffoto: @WCHEMS/Twitter

Drie persone, insluitend ʼn jong seun, is Sondagmiddag dood in ʼn kop-teen-kop-botsing op die R59 naby Sasolburg.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici is omstreeks 16:00 na die toneel ontbied waar drie voertuie in ʼn botsing betrokke was. “Twee motors het mekaar reg van voor getref. Die derde motor het geringe skade opgedoen,” het hy verduidelik.

ʼn Jong seun, vermoedelik vyf jaar oud, het noodlottige beserings opgedoen. “ʼn Man, van dieselfde motor, het ook noodlottige beserings opgedoen. Paramedici kon nie enigiets vir hulle doen nie en hulle is op die toneel dood verklaar.” ʼn Vrou van dieselfde motor het geringe beserings opgedoen en is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

ʼn Man van die tweede motor was in ʼn kritieke toestand in die motor. “Terwyl paramedici hom behandel het, het sy toestand skielik versleg en hy het sy bewussyn verloor. Paramedici het hom tevergeefs probeer bybring en hy is later op die toneel dood verklaar,” het Vermaak bygevoeg. ʼn Vrou van dieselfde motor het geen beserings opgedoen nie. Sy is op die toneel ondersoek, maar het later vervoer na die hospitaal van die hand gewys.

Die insittendes van die derde motor is ongeskonde.

Die omstandighede rondom die ongeluk is nog nie bekend nie. Plaaslike owerhede stel ondersoek in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

pieter ·

Baie besige pad jammer vir lewens verlies ,voertuie wat in geel strepe ry baie gevaarlik om verby te gaan ,ek kry dit baie dan gaan mense wydsbeen verby teen aankomende verkeer en jy moet noodgedwonge gee pad of rem trap dan sit sommiges nog met hul cel fone ook verkeers beamptes moet verkeer in geelstrepe swaar beboet baie gevaarlik, verkeer gaan selfs op draaie verby voertuie wat in geelstrepe ry , daar ook te min spoed borde op daai pad

IK ·

Moenie vir meer vollediger inligting na ‘n ander nuusbron verwys want dan word jy afgeskiet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.