Drie dood in skietery by polisiestasie

Argieffoto

Argieffoto

Drie mense is dood in ʼn skietery by ʼn polisiestasie aan die KwaZulu-Natalse noordkus.

Maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê twee adjudant-offisiere, onderskeidelik 48 en 59 jaar oud, was Donderdagmiddag by die aanhoudingselle van die Nyoni-polisiekantoor toe hulle deur twee aangehoudenes oorval is.

“Een van die beamptes se vuurwapen is afgeneem, waarna die verdagtes op die beamptes losgebrand het. Die ander beampte het teruggeskiet en een van die verdagtes noodlottig gewond. Die tweede verdagte kon daarin slaag om te ontsnap,” het Zwane gesê.

Die twee polisiebeamptes is ernstig beseer tydens die voorval en is in ʼn kritieke toestand na ʼn nabygeleë hospitaal geneem. “Hulle het onderskeidelik gisteraand en vanoggend aan hul beserings beswyk,” het Zwane gesê.

Volgens Zwane is die polisievuurwapen in die dooie verdagte se besit gevind. “Aanklagte van moord en roof is aanhangig gemaak en ʼn geregtelike doodsondersoek is geopen. Die verdagte wat dood is, was in aanhouding vir verskeie rooftogte in die omgewing.”

Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, provinsiale polisiekommissaris, het sy medelye betuig met die polisiebeamptes se families, kollegas en vriende. “Ek is seker ons sal die verdagte wat gevlug het opspoor sodat hy die gevolge van sy dade kan dra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

m ·

Darem interessant hoe maklik hierdie mense die polisie beamptes oorval.

Blackie ·

Sovêr ek kan onthou moet daar nie ‘n vuurwapen na die selle gedra word nie. Dit is om sulke probleme te voorkom. Of wat sê ek ?

m ·

Netso Blackie. Dis nou wat gebeur as daar nalatigheid is. Die polisie moet begin leer uit hulle foute.

GES ·

Sommige polisiebeamptes verkeer onder die indruk dat almal hulle respekteer maar duidelik nie die kriminele nie. Hulle sal moet wakker skrik en paraat word. As dit so aangaan sal SA ook polisie van Cuba moet invoer.

MM ·

Ek was vir 10 jaar betrokke by die SAPD en jy was nie toeglaat om die selle te besoek met jou vuurwapen nie, maar dees dae geld geen veiligheids reel meer nie.

NEL ·

Swak opleiding en geen dissipline gee aan leiding dat soveel polisie manne doogeskiet word.
Wonder hoe het die persone adjudant offisiere geword want in my tyd moes jy kursusse doen om bevorder te word, wil voorkom of bevordering sommer net gebeur , hang seker af na hoe groot die guns is.

m ·

Bly ma tragies want dis die mense se gesinne wat moet cope met wat gebeur het.

Fred ·

Tragies. Mens kan net dink aan die droefheid van daardie polisiemanne se gesinne. Maar terselfdertyd wonder jy, soos voorheen al hier genoem, of die wapenopleiding vir polisiemanne voldoende en reg is, want wat soek ‘n gewapende man tussen gevaarlike gevangenes? En as hulle dan twee bymkeaar is, kan een dan nie die ander een voortdurend beskerm nie?

Amanda Van Vuuren ·

30 Jan

Ek wil maar net vra of enige van julle besef wat n moontlikheid kan wees dat die polisie nou se dae hul vuurwapens aan hulle dra?? Sekerlik besef hulle by nou al wat die gevare is wan hul met die vuurwapens selle toe gaan?? As die kriminele nie soos onkruid groei nie sou die vuurwapens nie nodig gewees het om so aan hul persoon te dra nie? Ek dink net hulle kort n erenstige kursus omtrent veiligheids maatreels….
Die ideaal is om n koeelvaste baadjie te dra soveel as moontlik..Hoe swaar, warm of ongemaklik dit is weet ek nou nie…

Die ‘onkruid’ roei die polisielede so uit, dat ek nie meer kan byhou met die telling nie… dis absoluut en totally disgusting!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.