Drie dood in Soweto-onrus

Plundery in Soweto Foto: @FrancoisCTown op Twitter.

Plundery in Soweto Foto: @FrancoisCTown op Twitter.

Minstens drie mense is dood sedert plundery Maandag in Soweto, Johannesburg, uitgebreek het.

“Een van die persone is ʼn 19-jarige wat Woensdag om 19:00 in Naledi doodgeskiet is,” het lt.genl. Solomon Makgale, woordvoerder van die polisie, Vrydag gesê. “Hy is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar. “As ʼn voorkomende maatreël het ons al die vuurwapens van polisiebeamptes wat op die toneel was en teenwoordig was toe die 19-jarige doodgeskiet is, gekonfiskeer.” Die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat is ook in kennis gestel. “Die ondersoek duur voort.”

The Star het Donderdag berig Nhlanhla Monareng (19) is doodgeskiet toe die polisie op ʼn skare losgebrand het wat Woensdagaand voor ʼn man van Pakistan se winkel in Naledi saamgedrom het. Hy was ʼn omstander en was glo vriende met die Pakistani’s, volgens die koerant.

Die eerste slagoffer was die 14-jarige Siphiwe Mahori. Hy is glo Maandag deur ʼn Somaliër doodgeskiet toe hy en sy vriende glo by die man se winkel in Snake Park wou inbreek.

Intussen berig The Star ʼn winkeleienaar van Malawi, Dan Mokwena, is Woensdag in sy winkel aangeval en vermoor waar hy gelê en slaap het.

Makgale het gesê die polisie is steeds in Soweto ontplooi. “Lede word na tonele uitgestuur soos wat klagtes ingedien word,” het hy gesê.

Volgens Makgale is daar geen berigte van enige skoliere wat in die plundery betrokke was nie. “Daar was voorvalle by Langlaagte en Eldoradopark. ʼn Groep seuns het probeer om ʼn Pakistani se winkel in Eldoradopark te plunder, maar die polisie het vinnig reageer en die tieners het laat spaander voordat hulle skade kon aanrig.”

Skoolkinders het glo ook Pakistani-winkels in Langlaagte bestorm en geplunder.

Plundery in Soweto Foto: @FrancoisCTown op Twitter.

Plundery in Soweto Foto: @FrancoisCTown op Twitter.

Intussen is nege mense in Kagiso aan die Wes-Rand in hegtenis geneem toe ʼn muur gebreek is om toegang tot ʼn winkel te bekom. Lede van die polisie se openbare-orde-eenheid het reageer en die plunderaars het met leë hande gevlug. “Die persone word aangekla van openbare geweld en die besit van gesteelde goedere,” het Makgale bygevoeg. “ʼn Vrou is in hegtenis geneem nadat die helfte van die voorraad wat glo uit ʼn spazawinkel gesteel is, in haar huis opgespoor is.” Sy staan tereg op aanklag van die besit van gesteelde goedere. “Die tien persone sal op 29 Januarie in die Kagiso-landdroshof verskyn.

Altesaam 162 is reeds in verband met die onrus in hegtenis geneem, waarvan 44 persone Vrydagoggend in die Protea-landdroshof verskykn het. Die saak is uitgestel tot 29 Januarie.

Lees alle vorige berigte oor Soweto op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Drieks ·

Zuma en Anc se voorbeeld uit geleef.
Die kinders praat ook oor Nkandla en alles van die man wat hul Pa van die land moet wees.
ANC, word wakker.
Die jeug gaan hierdie laaste bietjie van die land wat nog staan, laat tuimel.

JZ ·

ANC se stilswye oor die voorvalle, soos met die plaasmoorde ook,gee dit n gevoel van erkening dat dit reg is,al probeer hul dit afmaak as Krimeneel is daar die gevoel hul dit onderskryf.

Asjas ·

Hier kom nog ‘n Vakansiedag. Another Soweto Day. Proundly brought to you by the ANC.

Gerhard Bezuidenhout ·

En dan sien ek elders dat hul wil voorgee dat die mense honger is . Wat n klomp snert.

ladybug ·

Sien JZ! Jou tjomme gaan lekker aan!

In apartheid het hulle soos barbare aangegaan en nou 20 jaar later het niks verander nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.