Drie dood ná kaping in Krugersdorp

Argieffoto: Netcare 911

Niemand is nog in hegtenis geneem nadat drie mense Sondagaand in ʼn vermoedelike kapingsvoorval in Krugersdorp aan die Wes-Rand doodgeskiet is nie.

Kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het omstreeks 19:30 in David Websterlaan in Tshepisong gebeur. Volgens Makhubele het die kapers in ʼn Quantum-bussie voor ʼn minibus-taxi stilgehou om die taxi te verhoed om weg te ry.

Twee ander taxi’s het gesien wat gebeur en het naby die toneel stilgehou om te probeer om die insittendes in die eerste taxi te help. ʼn Skietery het ontstaan en drie mans is doodgeskiet, terwyl nog drie mense gewond is. Die kapers het met die eerste minibus-taxi op die vlug geslaan.

Nick Dollman, woordvoerder van Netcare 911, het gesê een van die mans wat deur paramedici op die toneel behandel is, is in sy bobeen geskiet. Hy is in ʼn ernstige toestand na ʼn hospitaal gehaas. “Van die ooggetuies het beweer nog ʼn man wat in sy nek geskiet is, is deur omstanders na ʼn hospitaal geneem voordat paramedici op die toneel aangekom het,” het Dollman gesê.

Makhubele het gesê hoewel die voorval as ʼn kaping hanteer word, bestaan die moontlikheid dat die skietery met taxi-geweld verband hou. “Alle moontlikhede word in die stadium ondersoek,” het hy gesê. Die gekaapte taxi is nog nie opgespoor nie.

Sake van moord, poging tot moord en kaping word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Aag Sies Tog ·

Dit is die nuwe manier hoe n vrye mark stelsel werk. Een van die dae sal ons seker geintemideer word waar ons ons kruideniersware ook moet koop. EK sien dit baie hier op die klien dorpies dat taxis die privaat voertuie voorkeer en verhoed dat mens op ge laaai word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.