Drie mense is Maandagoggend dood en ses beseer tydens ʼn skietery in Bakerstraat in Durban.
Maroela Media het vroeër berig die skietery het glo in ʼn woonstelblok, wat vir studentebehuising gebruik word, plaasgevind. Die woonstelblok is glo naby die Durbanse hooggeregshof en ʼn polisiestasie geleë.
Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, het gesê paramedici het omstreeks 11:30 by die toneel opgedaag. “Daar was verskeie persone met beserings en nog paramedici-eenhede is ontbied. Twee mans en ʼn vrou het noodlottige beserings opgedoen. Hulle is op die toneel dood.”
Ses persone het van geringe tot kritieke beserings opgedoen. Vyf van die persone is na hospitale in die omgewing geneem vir verdere behandeling.
Die omstandighede rondom die skietery is nog onbekend. Die betrokke owerhede was op die toneel.