Drie dood toe motor in rivier beland

Argieffoto: NSRI

Drie mense is dood toe ʼn motor Sondagmiddag in ʼn rivier naby Kenton-on-Sea in die Oos-Kaap beland het.

Luidens ʼn verklaring van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is die instituut se Port Alfred-bemanning omstreeks 13:10 na die toneel by die Kariega-brug op die R72 ontbied. Volgens inligting op die toneel het ʼn motor die pad verlaat en in die rivier beland. Die oorsaak van die ongeluk was nie bekend nie.

Die polisie, verkeersdienste, ambulansdienste, ʼn insleepdiens en polisieduikers is almal ook na die toneel ontbied.

“Die polisie het vermoed daar kan mense, onder meer ʼn kleuter, nog in die motor vasgekeer wees wat reeds onder die oppervlak verdwyn het óf die persone kon in die rivier vermis geraak het. Die NSRI het reddingswemmers ontplooi om dadelik na die mense te begin soek, terwyl ʼn seereddingsboot ook rivier op ingestuur is om met die soektog te help,” lui die verklaring.

Polisieduikers het ook by die reddingspoging aangesluit en die liggaam van ʼn tienjarige kind is eerste in die water gevind. Ná nog ʼn ruk is die liggaam van ʼn vrou en ʼn kleutermeisie in die wrak van die voertuig gevind.

Nog twee vroue, ʼn man, ʼn kleuter en ʼn tiener is per ambulans met matige tot ernstige beserings na ʼn hospitaal geneem.

Die oorledenes se liggame is deur die provinsiale forensiese patologiedienste verwyder. ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hannelie ·

Net een voertuig betrokke? Want ek tel 8 mense, bietjie baie vir een voertuig

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.