Drie dood toe motors voor trok inry

Daar word vermoed dat een van die sedans deur die ander sedan gesleep is toe die bestuurders van albei motors beheer verloor en voor die vragmotor ingedraai het (Foto: Verskaf)

Drie mense is Woensdagaand dood toe twee sedans en ’n vragmotor in ’n ongeluk op die N4 naby Mbombela in Mpumalanga betrokke was. Die ongeluk het omstreeks 21:00 naby die Mara-afrit gebeur.

Volgens Moeti Mmusi, woordvoerder van die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid, het twee sedans, ’n Nissan Sentra en ʼn Toyota Cressida, en ’n vragmotor al drie in die rigting van Malelane na Mbombela gery toe die ongeluk plaasgevind het.

“Daar word vermoed dat een van die sedans deur die ander sedan gesleep is toe die bestuurders van albei motors beheer verloor en voor die vragmotor ingedraai het,” bevestig Mmusi.

“Die vragmotor het na bewering in die agterkant van een van die sedans vasgery. Drie mans is op slag dood.”

Die vragmotorbestuurder het ongedeerd van die ongeluk afgekom.

“Een persoon het glo te voet van die toneel gevlug.”

Die pad was gedeeltelik gesluit om wetstoepassers en noodpersoneel in staat te stel om die ongelukstoneel te fynkam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Maritza

Hoekom het een gevlug? Baie verdag

melaney

Het die motor bestuurder(s) sowaar gedink die vragmotor sal dadelik tot stilstand gebring word sodat hulle voor kan ry? Die meerderheid hoort glad nie agter ‘n stuurwiel nie. Bitter min ry binne die spoedgrens. Al verhoog ons petrol/diesel prys tot R40, niks gaan padvarke keer nie. Jaag gaan hulle jaag.

Wielspore

Weereens die N4 in Nelspruit omgewing wat slagoffers eis, gedurende die dag gebruik die wettige voertuie die pad en gedurende die nag gebruik onwettige voertuie die pad. As jy die N4 gedurende die nag gebruik is dit opmerklik hoeveel wrakke op die pad is, gebrek aan ligte, kruip op en oor die pad, oorlaai want daar is ‘n gebrek aan wetstoepassing in die aande.

Bernard

Absoluut niks met ‘jaag’ te make nie. Gewone onnoselheid in aksie. Kom by.

Swerwer

Vlug? Dit sê/verduidelik net mooi alles.