Drie dood, trokdrywer kritiek ná ongelukke in Gauteng

DIe toneel in in Vleiweg in Kemptonpark waar ‘n man sy motor teen die muur van ’n sakeonderneming gebots het. (Foto: ER24)

Drie mense, van wie twee in hul vroeë 20’s, is die naweek tydens ongelukke in Gauteng dood, terwyl nóg ’n gru-ongeluk in dié provinsie ’n vragmotorbestuurder in ’n kritieke toestand gelaat het.

Oos-Rand

’n 20-jarige man is Sondagoggend dood toe sy motor teen die muur van ’n sakeonderneming in Kemptonpark gebots het.

Ross Campbell, woordvoerder van ER24, sê die motor is 07:25 met die nooddiens se aankoms op die toneel op sy dak aangetref. Die motor is oor ’n randsteen voordat dit teen die baksteenmuur van ’n onderneming in Vleiweg gebots en tot stilstand gekom het.

Die bestuurder van die motor is in ’n kritieke toestand in die wrak van sy motor aangetref en na die Tambo-gedenkhospitaal gehaas vir mediese behandeling. Die jong man het egter later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Vaaldriehoek

Die wrak van die swaar vragmotor op die N1 naby die Vanderbijlpark-afrit. (Foto: ER24)

’n 28-jarige man is intussen in ’n kritieke toestand nadat hy Sondagmiddag beheer oor ’n swaar vragmotor op die N1 naby die Vanderbijlpark-afrit verloor het.

Die vragmotor het by ’n wal afgerol en die voorste gedeelte van die vragmotor het van die voertuig se dubbelsleepwa afgebreek. Die bestuurder was in die verpletterde voorste gedeelte van die vragmotor vasgekeer en is deur die plaaslike brandweer op die toneel bevry.

Die wrak van die swaar vragmotor op die N1 naby die Vanderbijlpark-afrit. (Foto: ER24)

Campbell sê die pasiënt het kritieke beserings in die voorval opgedoen en is met ’n lugambulans na ’n private hospitaal in die omgewing gevlieg vir mediese behandeling.

’n Jong vrou is net die vorige aand (Saterdag) in Vanderbijlpark dood nadat ’n Volkswagen Polo en ʼn Toyota RAV4 op Ravelweg gebots het.

Campbell sê die vrou (22) is net ná middernag met die nooddienste se aankoms op die toneel gedeeltelik vasgekeer in die wrak van haar Polo aangetref.

Die vrou het geen teken van lewe getoon nie en is op die toneel dood verklaar.

Die ongelukstoneel in Ravelweg in Vanderbijlpark (Foto: ER24)

Twee ander persone, albei insittendes van die RAV4, het ligte beserings in dié voorval opgedoen en is na die Mediclinic Emfuleni vervoer vir mediese behandeling.

’n Man, vermoedelik in sy laat 20’s of vroeë 30’s, is Saterdagaand in nóg ’n voorval aan die Vaaldriehoek dood toe ’n motoris hom van sy fiets afgery het op die R42 buite Drie Riviere in die omgewing van Vereeniging.

Campbell sê paramedici het die man net ná 20:00 met hul aankoms op die toneel in die pad aangetref. Die man het geen teken van lewe getoon nie en is op die toneel dood verklaar.

Die bestuurder van die motor is ook op die toneel behandel en die polisie is na die toneel ontbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.