Drie dood tydens skietvoorvalle in KZN

Argieffoto: Kent Williamson

Die polisie in KwaZulu-Natal is steeds op soek na die verdagtes wat betrokke was by twee verskillende skietvoorvalle wat Vrydag binne ʼn paar uur in dié provinsie plaasgevind het waartydens twee polisiebeamptes en ʼn lid van die publiek doodgeskiet is.

 Die eerste voorval het Vrydag omstreeks 14:00 plaasgevind toe ʼn adjudantoffisier, wat van diens af was, na bewering in sy privaat bakkie op die N2-snelweg naby die Seadooneweg-afrit doodgeskiet is. Kol. Brenda Muridili, woordvoerder van die polisie, sê ʼn onbekende aantal gewapende mans het vanuit ʼn wit Audi A3 op die beampte se voertuig losgebrand.

Volgens Muridili is die oorledene se liggaam met veelvuldige skietwonde in die middel van die pad gevind. Sy verlate bakkie vol koeëlgate is ook langs die pad gevind.

Die adjudantoffisier was by die KwaMakhutha-polisiestasie gevestig.

In die tweede voorval is ʼn polisiekonstabel, wie se naam nog nie bekend gemaak is nie, omstreeks 21:30 in Kranskop by ʼn kitskosrestaurant tydens ʼn skietery doodgeskiet.

Muridili sê die polisiekonstabel het na bewering na buite beweeg om ondersoek in te stel na ʼn verdagte voertuig wat op en af in die straat gery het, toe die insittendes van die voertuig op hom begin skiet het. Volgens Muridili kon die konstabel daarin slaag om sy dienspistool uit te haal, maar twee van die verdagtes het intussen uit die voertuig gespring en aanhoudend op die konstabel geskiet. Hy is op die toneel dood.

ʼn Ander polisiebeampte, wat ook in Kranskop gevestig is, het die skote gehoor en daarop gereageer. Hy het op die verdagtes geskiet en twee van hulle gewond. Die twee se makkers het daarin geslaag om hulle terug in die voertuig in te sleep en hulle het van die toneel gevlug. Die verdagtes het wel ʼn vuurwapen op die toneel agtergelaat wat vir ballistiese toetse gestuur is.

Muridili sê die twee gewonde verdagtes se liggame is later by Seven Oaks gekry, saam met die verdagtes se wegkommotor.

“Ongelukkig is drie omstanders tydens dieselfde voorval deur dwaalkoeëls getref. ʼn Jong man is op die toneel dood verklaar, terwyl ʼn tweede man en ʼn vrou gewond is en na die hospitaal geneem is. Albei is glo in ʼn stabiele toestand,” het sy gesê.

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het Saterdag die sinnelose sterftes veroordeel. Hy het ook sy meegevoel aan die families van die oorledenes oorgedra.

Die polisie doen ʼn beroep op enigiemand met inligting wat tot die ondersoek kan bydra om Stop Misdaad by 0860 010 111 te nader. Mense kan anoniem bly en alle inligting wat ontvang word, sal streng vertroulik hanteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Danny ·

Is daar nog iemand wat se die land word regeer deur n demokraties verkose regering of word dit regeer deur n klomp misdadigers wat rondhardloop en lings en regs skiet op enigiemand wat hulle sien

Pieter ·

Kan julle nie tel nie, altesaam is daar volgens die berig 5 dood,nie soos wat in die opskrif lees 3 nie. Die liggame wat gevind is behoort sekerlik aan gestorwenis.

George in Bloem ·

Welkom in die Wilde Weste hier aan die suidpunt van Afrika. En dan sal die onnosele spul by GFSA steeds die wetsgehoorsame wapeneienaar in SA voorhou as die groot sondebok aangaande vuurwapen geweld statistieke in hierdie wettelose land.

Petrus ·

Net 3 dood? Twee polisie n omstander en twee verdagtes maak nie 3 nie maar 5.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.