Drie dood, verskeie beseer in Gauteng-ongelukke

Drie vroue is dood in dié ongeluk naby Lenasia in Johannesburg. (Foto: ER24)

Drie vroue is dood en een ernstig beseer toe die motor waarmee hulle gery het Saterdag verskeie kere langs die N12 in Johannesburg gerol het. Dit was een van drie ernstige ongelukke wat Saterdag in Gauteng plaasgevind het.

Paramedici van ER24 is gister kort ná 19:00 na die toneel naby die Nancefield-brug in Lenasia ontbied. Met hul aankoms op die toneel het hulle die motor op sy sy in die middel van die snelweg sien lê.

“Drie van die vroue het noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar. ʼn Vierde passasier, ook ʼn vrou, is met ernstige beserings na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal vervoer,” het Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, Sondag in ʼn verklaring gesê.

Die oorsaak van dié ongeluk is nog nie bekend nie.

Drie kinders en hul pa is Saterdag na ʼn hospitaal in Pretoria geneem, ná ʼn ongeluk op die N1 in Pretoria. Paramedici is omstreeks 16:00 na die R101-afrit ontbied en het sewe mense langs die pad sien sit.

“ʼn 40-jarige man en sy drie kinders, almal tussen sewe en 11 jaar oud, is op die toneel behandel en na die hospitaal vervoer. ʼn Vrou, vermoedelik die kinders se ma, is ook behandel, maar wou nie na die hospitaal gaan nie,” het Vermaak gesê.

ʼn 34-jarige vrou is in ʼn ander ongeluk op die Lynnwood-pad in Equestria, Pretoria, beseer. Paramedici het ʼn vrou net ná 13:30 buite haar motor aangetref. “Hulle kon vasstel dat die vrou ʼn ernstige breuk aan haar bobeen opgedoen het. Sy is op die toneel behandel en toe na ʼn hospitaal vervoer.”

Dit is nog nie duidelik wat tydens al die ongelukke gebeur het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Danie

Ek dog die hospitale is voller weens drank verkope, maar jammer daar is ander oorsake ook behalwe mense wat hulle nie gedra nie!

JM

Dit is kommerwekkend hoe sommige motoriste bestuur. Geen wonder dat daar soveel ongelukke plaasvind nie.