Drie mense is Sondag dood en vyf beseer in twee afsonderlike ongelukke in KwaZulu-Natal.
Athlenda Mathe, woordvoerder van Netcare 911, het gesê drie mans is dood nadat ʼn bakkie op die N2 naby Empangeni omgeslaan en hulle uit die voertuig geslinger is.
Volgens Mathe is paramedici omstreeks 14:00 na die toneel ontbied, waar hulle gevind het die drie mans het reeds aan hul beserings beswyk. ʼn Vrou en nog ʼn man het ligte tot matige beserings opgedoen. Hulle is op die toneel behandel voordat hulle na ʼn nabygeleë hospitaal geneem is.
Mathe het gesê die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.
Intussen is drie mense ernstig beseer nadat ʼn voertuig op die M1 Higginson-snelweg naby die Bayview-afrit in Durban gerol het. Volgens Garrith Jamieson, bedryfsdirekteur van Rescue Care-nooddienste, het die motor omstreeks 08:30 van die snelweg af gerol en onder die snelweg in die veld te lande gekom.
“Drie van die insittendes is beseer, waarvan een kritieke beserings opgedoen het. Die jong vrou is op die toneel op ʼn ventilator geplaas en saam met die ander twee insittendes na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas,” het Jamieson gesê.
Hy het gesê die polisie sal die oorsaak van die ongeluk ondersoek.
Was daar nie ‘n minibustaxi by betrokke nie?
Buitestaander, Tien teen een was daar minibustaxi betrokke….maar die het seker verder gery na hy die ongeluk veroorsaak het
Dinsdag 10 Jan. word die ongeluksyfers bekend gemaak. Intussen lyk dit of daar ‘n wedywering is om dit voor die ‘sperdatum’ so hoog as moontlik op te stoot. Duidelik is die betrokke owerhede op die verkeerde pad (sommer letterlik ook) om ongelukke te verminder want daar wil nie na raad geluister word.