Drie doodgeskiet ná moord op polisiehoë in KZN

(Foto: SAPD)

Die polisie het Maandag drie verdagtes in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, doodgeskiet nadat hulle inligting opgevolg het oor die moord op ’n waarnemende stasiebevelvoerder verlede maand.

Polisiebeamptes het ’n voertuig met vier insittendes in Maqongqo naby Pietermaritzburg gewaar en agternagesit.

Volgens kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder, het die beamptes die verdagtes se voertuig van die pad af probeer dwing waarna die verdagtes op die beamptes losgebrand het.

“Die verdagtes het tydens die skietgeveg hul voertuig van die pad af getrek en te voet in ’n suikerrietplantasie ingevlug. Twee verdagtes is noodlottig gewond tydens die skietgeveg.”

Nog ’n verdagte is dood aangetref in die suikerrietplantasie. ’n Polisiehond is doodgeskiet en nog twee gewond. Die twee beseerde honde is na ’n veearts geneem vir behandeling.

Mbele het gesê daar is op ses vuurwapens en die verdagtes se voertuig beslag gelê. Dit is intussen vasgestel dat die voertuig gesteel is.

“Die verdagtes is positief verbind aan die moord op kol. Jabulani Ndawonde sowel as talle ander moorde wat in KwaNdengezi en die omliggende gebiede gepleeg is. Die polisie soek steeds na die ander verdagte.”

Ndawonde (56), waarnemende stasiebevelvoerder van die Ndwedwe-polisie, is op 24 Mei in Ndwedwe, noord van Durban, doodgeskiet.

Hy het omstreeks 18:30 op die dag huis toe gery toe hy digby die Bhamshela-taxi-staanplek deur mans in ʼn verbygaande bakkie geskiet is. Ndawonde het op die toneel aan sy beserings beswyk.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ovelia ·

Ai man mt die hoed, hoeveel polisie manne wil jy nog laat vermoor met ongelisensieerde wapens. Dan wil jy ons wapens wat wettig is wegvat??

Rudolph ·

Dit is erg genoeg om weerlose, onskuldige diere te laat ly en sterf vir ons smaak. Deur hulle aan te wend as kanonvoer om gewapende misdadigers aan te keer is ‘n verdere bevestiging van ons diepliggende disrespek vir die lewens van diere. Dierevriendelikheid is gekant teen die (mis)gebruik van diere as knegte, slawe, objekte van smaak, mode of vermaak

Alta ·

Ek stem saam met Rudolph dat ‘n mens nie weerlose honde gebruik om gevaarlike werk te doen nie. Hulle is nie daar om namens ons te ly en te sterf nie.

Di ·

Die polisie staan nie ‘n kans teen al die kriminele elemente in hierdie land nie. Misdadigers het summier hierdie land oorgeneem danksy ons regering.

Gatvol... ·

Ek hoop die polisie hond kry ook ‘n staatsbegrafnis. Hy/sy is aan diens dood… Rus in vrede viervoet kind, jou werk op aarde is gedoen en dankie daarvoor!

Misky ·

Ek het onlangs statistieke gesien en dat daar 1 polisielid is vir elke 411 mense is in SA. Nou trek ons die korruptes af en dan is die statistiek seker verdubbel. Hoe en wie moet vir wie beskerm en daagliks kom daar net meer onwettige immigrante in die land. Waar gaan dit eindig?

E ·

Kriminilogie 101 – jy moor nie ‘n polisieman en dink jy gaan tronk toe nie. Polisie soek altyd geregtigheid vir hulle eie, want hulle weet anders is dit hulle volgende. In elk geval is ek bly geen polisie is dood of beseer nie.

Frank ·

Goed gedaan SAP!
Ai, mens het sulke gemengde gevoelens oor die SAP. As hulle net ‘n meer effektiewe interne ondersoekstelsel gehad het om die vrot appels onder hulle uit te roei. Beginnende by Hoedjie-man….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.