Drie ‘dwelmmuile’ by OR Tambo vasgetrek

Argieffoto

Drie vermeende dwelmmuile is vandeesweek by die OR Tambo Internasionale Lughawe in Kempton Park in hegtenis geneem.

Al drie verdagtes, twee mans en ʼn vrou, het reeds in die hof verskyn.

Lt.kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die polisie, sê in die eerste voorval is ʼn 49-jarige man Dinsdag in hegtenis geneem nadat die polisie ʼn wenk ontvang het. Die man, wat sedertdien as Erik Korpel geïdentifiseer is, was op pad om ʼn vlug na München, Duitsland, te haal toe beamptes hom voorgekeer het. Sy tas is deursoek en khat ter waarde van meer as R100 000 is in die bagasie gevind.

“Korpel het Donderdag in die Kempton Park-landdroshof verskyn op aanklag van dwelmhandel,” sê Mogale.

Ook in die week is ʼn 47-jarige man en ʼn 36-jarige vrou in onverwante voorvalle in hegtenis geneem op aanklag van dwelmhandel. Mogale sê die vrou, Raquel Mukoko, het vanaf Sao Paulo in Johannesburg geland en was op pad om ʼn vlug na Windhoek in Namibië te haal.

“’n Roetineondersoek het getoon dat die vrou verskeie sintetiese sakkies met kokaïen in gesluk het. Sy het sedertdien twee keer in die hof verskyn en haar saak is tot 21 Januarie uitgestel sodat sy regsverteenwoordiging kan bekom. Sy bly in aanhouding,” sê Mogale.

Intussen is Ali Ahmed Camaley op die lughawe in hegtenis geneem nadat die polisie ʼn wenk ontvang het. Beamptes het hom by die aanmeldingstoonbank voorgekeer kort voordat hy ʼn vlug na Frankfurt sou haal. “Sy bagasie is deursoek en tussen sy klere is pakkies dwelms gevind. Hy is in hegtenis geneem en het reeds in die hof verskyn,” sê Mogale.

Mogale het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om voort te gaan om die polisie van inligting te voorsien indien hulle kennis dra van kriminele aktiwiteite. Enige inligting kan by Stop Misdaad by 08600 10111 aangemeld word en sal as vertroulik hanteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

A Mac ·

As mense net wil leer, niks, maar niks, wat enigsins iets met dwelms te doen het betaal nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.