Drie dwelmmuile vas op OR Tambo

Brig. Vish Naidoo by dwelms wat by die OR Tambo-lughawe afgeneem is. (Foto: Verskaf)

Drie dwelmmuile is Saterdag deur polisie op die Internasionale Lughawe OR Tambo vasgetrek. Daar is ook op sowat 30 kg dwelms beslag gelê.

“In die eerste geval het lede van die polisie, Suid-Afrikaanse Inkomstediens en sekerheidspersoneel van die lughawe gereageer op inligting en omtrent 09:30 ʼn man en vrou onderskep, terwyl hulle in Suid-Afrika aangeland het,” het brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, gesê. Dit is nie duidelik van waar dié twee gevlieg het en of hulle Suid-Afrikaanse burgers is nie.

“Die vrou het 21 kg dwelms, vermoedelik kokaïen, in haar tas gehad en die man 4 kg dwelms, ook vermoedelik kokaïen, om sy middel en bors vasgemaak.”

Terwyl dié twee verdagtes nagegaan is, het die Valke boonop inligting opgevolg dat nóg ʼn dwelmmuil op pad was vir ʼn vlug na Hongkong. “Die polisie het vinnig gereageer en die man, ʼn 49-jarige van Brakpan, omstreeks 11:00 in hegtenis geneem,” sê Naidoo. Dié het net meer as 5 kg kokaïen om sy middel en bors vasgemaak.

Naidoo sê dit is die tweede keer in ʼn maand dat ʼn dwelmmuil onderweg na Hongkong vasgetrek is. Op 12 Januarie is Fiona Kruger vasgetrek en in hegtenis geneem toe sy kokaïen na Hongkong probeer smokkel het.

Al vier verdagtes het ʼn kaartjie in besigheidsklas bespreek.

Die drie verdagtes wat Saterdag in hegtenis geneem is, sal aangekla word van dwelmhandel en na verwagting Maandag in die landdroshof in Kempton Park verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SomeOne ·

waarom het die polisie die twee laasgenoemdes nie gelos dat hulle hongkong toe is nie, hongkong net laat weet, dan was ons ontslae van die twee vir baie jare
as hulle net wil besef hulle neuk baie onskuldige mense, en veral kinders, se lewens op
ek het geen simpatie vir sulke “mense” nie
my kinders is van kleins af geleer, dis ‘n “no go” vir en met dwelms

ZeldA ·

Ek wonder… Hulle is ingelig? En toe loop die regte dwelmhandelaars verby… Dit klink my maar baie onproffesioneel om dwelms om jou vas te maak of in jou tas te sit

Christo ·

Ja, een uit honderde wat per toeval gevang word.
Hulle moet n bietjie kyk hoe Autralia dit doen.

Anilda ·

nogal snaaks , ek het die ware verhaal el paco gekyk waar hy sook se mense word gestuur in 3 groepe, 1 met bietjie 2 meer 3 meeste en dan tip hulle self die polisie sodat 2 in d daai tyd verby kan gaan.
weet net nie hoekom mense s dom kan wees nie…jy gaan gevang word….ek dink ook beter as ons hulle laat gaan en dan eerder daai kant laat weet , ons tronke kla te vol…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.