Drie ernstig beseer in ‘straatrenne’

Die toneel in Durban-Noord. Foto: Crisis Medical

Die toneel in Durban-Noord. Foto: Crisis Medical

Drie mans is deur die loop van Donderdagaand met ernstige beserings na hospitale geneem nadat hulle in twee afsonderlike beweerde hoëspoedbotsings in Durban betrokke was.

Kyle van Reenen, woordvoerder van Crisis Medical, het gesê paramedici is omstreeks 22:00 na die eerste toneel op die Noordkus-pad in Durban-Noord ontbied.

“Twee motors het glo teen ʼn hoë spoed gebots, waarna een aan die brand geslaan het,” het Van Reenen gesê. “Gelukkig kon albei bestuurders met die hulp van omstanders uit die voertuie se wrakke bevry word voordat die brand ontstaan het.”

Een van die bestuurders het ernstige beserings opgedoen. Hy is op die toneel gestabiliseer en met ʼn ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Van Reenen het gesê die botsing het plaasgevind op ʼn gedeelte van die pad wat berug is vir onwettige straatwedrenne. “Die presiese oorsaak van die botsing sal egter deur die polisie vasgestel word,” het hy gesê.

Kort ná middernag is paramedici na Newlands ontbied waar twee motors glo ook teen ʼn hoë spoed in Inandaweg gebots het.

“Volgens inligting van die toneel het die twee motors glo resies gejaag. Een van die bestuurders het beheer verloor en teen die ander motor gebots. Een van die motors het van die pad af geswenk en teen ʼn muur langs die pad tot stilstand gekom.”

Albei bestuurders het ernstige beserings opgedoen. Hulle is op die toneel gestabiliseer en met ambulanse na ʼn hospitaal geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kobus ·

Dis so eenvoedig. Bring spoedwalle aan op paaie wat berug is vir straatrenne.

Karma ·

Idiote!!!!!!!!!!! Kry vir julself. Ek hoop, as julle versekering op jul voertuie gehad het, dat dit nie uitbetaal word as die polisieverslae dié gevalle as straatrenne geïdentifiseer het nie. Nie alleen foeter julle infrastruktuur op wat betaal word deur my – belastingbetaler – se swaarverdiende geld nie, maar julle put die SAPD en nooddienswerkers se fondse en hulpbronne uit en mors hul tyd. “Live by the sword, die by the sword!”

Gatvol ·

Hier is n idee en gee sommer vir Dipuo Peters:

Alle gevalle van spoed vrate, dronk en roekelose bestuurders moet as volg gestraf word:

Wat ook al die aan klag moet die persoon punte verloor op sy lisensie. Hy moet swaar beboet word en dan ook moet hy gemeskaps diens uit voer. Gemeenskaps diens moet hy nie polisie kantore se gras sny of so iets nie. Hy moet vir drie maande elke Saterdag aand by n dedicated insleep diens aan sluit en die aand saam met hulle spandeer. Waar ongelukke voorkom moet hy saam ry, die polisie help en bystaan waar paramediese personeel aan die beseerdes werk. So kan hulle SIEN wat die nagevolge is van wat hulle en ander mense doen. Hopeluk sal hulle besef dat dit nie werd is om so aan te gaan nie.

Werner ·

Nee man Kobus, net omdat sekere mense nie hul kan inhou nie , moet ek nou met my arme karretjie oor 20 hobbels ry en my suspensie opneuk ?

Oom Boer ·

Daar is sekerlik meer veiliger en toegeruste renbaan strukture waar hierdie jaag duiwels hul frustrasies en gangster aktiwiteite met weddenskap gelde kan gaan toets. Dit is glad nie ‘n opsie op ‘n openbare of munisipale pad/roete nie. Strenger maatreëls moet toegepas word met skuldig bevinding aan alle betrokkenes met sulke ongelisensieërde praktyke. Trek hul bestuurs lisensies permanent in, konfiskeer hul voertuie en verkoop dit op veilings en gebruik die gelde vir opleidings materiale in die tipe van aksies asook beboet hul met aardige bedrae of goeie tydperk van tronkstraf. Te veel onskuldige mense verloor hul lewens of kinders deur hierdie tipes van optredes met drank misbruik en hoëspoed wedrenne wat hul deur selfsugtigheid optree. Plaas kameras asook spoedwalle aan soos “Kobus” genoem het en ook goeie voorstel wat “Gatvol” genoem het. Tree asb hard en ernstig op teen hierdie dronkaards en jaag duiwels.

Chris W ·

Die boetes is te lig vir roekelose nalatige bestuur in hierdie land om mense tot ander insigte te bring.In my geval wou ek regs draai op ‘n grondpad en omdat dit winter was en die pad droog en vol poeier -stof was het my voertuig ‘n hengse stofwolk veroorsaak agter my.’n Breukdeel van ‘n sekonde voor ek begin draai het – ek was toe reeds in die regterbaan omdat die pad voor my sonder stof en skoon van ander voertuie was – het ‘n boer met ‘n Land Cruiser boor oor ons gery en omgeslaan.My vrou sit met permanente brein skade en was 4 maande in die hospitaal en kan nie sonder hulp loop na amper 3 jaar nie.Ek moet als vir haar doen ook,aantrek ,bad ,toilet toe neem ,haar toon naels knip ,ens ens en die man kry ‘n misrabele R500 boete!! Dis om van te braak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.