Drie gaan sit oor paartjie se moord

Chris en Katrien Jooste Foto: Rekord Noord

Chris en Katrien Jooste Foto: Rekord Noord

Drie mans is Vrydag in die Pretoriase hooggeregshof skuldig bevind aan die moord op Chris Jooste en sy vrou Katrien wat in November 2011 in ʼn besige straat in Soshanguve doodgeskiet is.

Die egpaar, albei in hul 60’s, is doodgeskiet toe hulle voorraad by ʼn spaza-winkel in Soshanguve, Gauteng wou aflaai. Chris is in die maag geskiet terwyl hy op pad terug was na sy bakkie. Katrien is in die bors geskiet toe sy haar aanvallers met pepersproei wou afweer. Sy kon hul dogter bel nadat hulle geskiet is. Die egpaar het op pad na die hospitaal aan hul beserings beswyk.

Hul aanvallers het R3.50 kontant en ʼn speelgoedgeweertjie gebuit.

Regter Lettie Malopa het Victor Mbuyseni Simango, Solomon Solly Selekane en Collen Peter Molapo, almal in hul 20’s en van die Winterveld, skuldig bevind aan die moorde. Hulle is ook skuldig bevind op aanklag van roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Simango is ook skuldig bevind dat hy die Joostes 16 dae voor hul dood van R500 beroof het toe hulle ook voorraad in Soshanguve afgelaai het.

ʼn Vierde beskuldigde, Nkomo Romeo Mathebula, is nog steeds op vrye voet nadat hy vroeër vanjaar uit aanhouding by die Ga-Rankuwa-landdroshof ontsnap het.

Malopa het die drie beskuldigdes se bewerings dat hulle onskuldig is, as leuens afgemaak. Sy het gesê hulle het geweet wat gaan gebeur en het saamgesweer om die egpaar te beroof. Sy het die getuienis van ʼn medepligtige, Gift Tuuba, aanvaar. Hy het die dag as die wegkombestuurder opgetree in Selekane se blou bakkie. Hy het vir die staat getuig in ruil vir moontlike vrywaring van vervolging. Hy het getuig dat Simango hom die aanwysings na die toneel verskaf het en gesê het hy moet die bakkie nader aan die toneel skuif nadat die ander drie die bakkie verlaat en hulle skote gehoor het. Tuuba het as die wegkombestuurder opgetree nadat die drie skieters in die bakkie gespring het.

Selekane ontken dat hy betrokke was in die skietery, maar hy het gesê hy het gesien hoe Mathebula “die wit man” skiet en hoe Molapo die vrou skiet. Toe hy wou weet waarom hulle die paartjie geskiet het, het Molapo gesê die vrou het hom met pepersproei gespuit.

Drie ooggetuies wat die voorval gesien het, het getuig dat die drie mans die paartjie genader het en hulle geskiet het voordat hulle in ʼn blou bakkie gevlug het.

Die saak is tot 10 Februarie uitgestel vir vonnisverrigtinge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.