Drie gered danksy wakker 6-jarige

Foto: NSRI

ʼn Sesjarige seun se blitsige optrede Sondag op ʼn strand in Plettenbergbaai het drie jong seuns van moontlike verdrinking gered.

Marc Rodgers, bevelvoerder van die plaaslike stasie van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gesê die bemanning is omstreeks 11:40 ontplooi nadat hulle inligting ontvang het dat iemand besig was om in die see by Hobie-strand te verdrink.

Cameron Badenhorst, ʼn sesjarige seun van Plettenbergbaai, het opgemerk dat drie seuns in die water voor die lewensreddertoring in die moeilikheid beland. Cameron het vinnig gedink en na die naaste NSRI-basis gehardloop om hulp te ontbied, het Rodgers vertel. Die NSRI het dadelik reddingswemmers ontplooi en die lewensredders aan diens in kennis gestel.

“Met ons aankoms op die toneel, het ons lede van die publiek en ’n lewensredder aangetref wat die seuns uit die water gehelp het. Ons seereddingswemmers het gehelp om die kinders uit die water te bring en hulle is op suurstof geplaas en deur noodhulpbeamptes vir nie-noodlottige verdrinkingsimptome behandel,” het Rodgers gesê.

Die drie seuns, tussen 9 en 11 jaar oud, is in ʼn stabiele toestand na ʼn plaaslike hospitaal vervoer. “Daar word verwag dat hulle ten volle sal herstel,” het Rodgers gesê.

“Die kinders is deur seestrome dieper in die water ingetrek nadat hulle weens die sterk golwe in die gety vasgevang is. Die golwe het hulle verhoed om regop te staan in die water,” het hy verduidelik.

“Ons loof Cameron vir sy vinnige optrede, asook die lede van die publiek wat gehelp het.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Justice ·

So `n klein yster! Waar is Cameron se foto sodat ons kan sien hoe lyk die held?

Ronel ·

Goeie werk outjie!!! Hoop jy kry sommer ‘n groot roomys!!! Ja foto van die held asb!!!

Rica ·

So jonk nog en so op en wakker. Hoop die lewe sal vir hom op sy lewenspad ook baie goed behandel. Geluk ook aan sy ouers. Dis net hulle wat hom so oplettendheid geleer het.

Buitestander ·

Bunnelanders moet liefs nie swem in die see sonder ‘n lewensreder of bekende van die omgewing ie.

Marietjie ·

Ek sou graag wou weet waar die lewensredders was, as dit voor die lewensreddertoring gebeur het.

M ·

Of…waar die kids se ouers was? Maar ja…ongelukke gebeur. Juis te meer rede om versigtig te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.