Drie gesoek vir moord op Pta-bejaarde

Die huis waar die bejaarde  vermoor is. Foto: Via Yusuf Abramjee / Twitter

Die huis waar die bejaarde vermoor is. Foto: Via Yusuf Abramjee / Twitter

Die polisie het ʼn volskaalse soektog van stapel gestuur na drie mans wat ʼn bejaarde vrou van Pretoria Maandag vermoor het.

Konst. Tumisang Moloto, woordvoerder van die polisie, het gesê die moord het omstreeks 11:30 in Laudium in die weste van die stad plaasgevind.

“Volgens inligting wat aan die polisie verskaf is, het drie mans toegang tot ʼn huis in Tajstraat verkry en drie vroue, waaronder die 79-jarige slagoffer, met ʼn vuurwapen aangehou en hulle met kabelbinders vasgemaak,” het Moloto gesê.

Een van die verdagtes het na bewering ʼn stuk lap in die bejaarde vrou se mond gedruk en sy kon nie behoorlik asemhaal nie.

“ʼn Man wat in ʼn ander kamer was, het die geroesemoes gehoor en dadelik sy alarm geaktiveer, waarna die verdagtes op die vlug geslaan het.”

Die vrou is op die toneel dood. ʼn Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die presiese oorsaak van haar dood te bepaal. Die motief vir die voorval is nog nie bekend nie.

Die Laudium-polisie ondersoek ʼn saak van moord.

Yusuf Abramjee, gemeenskapsaktivis en internasionale direkteur van kommunikasie by Crime Stoppers International (CSI), het die oorledene as Kulsum Fogie geïdentifiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Grap ·

Soos koos altyd sê boet die feite nou in om polities korrek te wees??

SNEL ·

Eerste keer wat ek hoor van die woord geroesemoes. Nuwe ding geleer.

Dis altyd erg as iemand n hoë ouderdom bereik en dan aan die hand van iemand anders nie eers meer hul laaste jare kan leef nie. Dis vreeslik.

Thomas ·

Snel,

Hoe ruk jy my nou tot stilstand; dis iemand met ‘n familiegeskiedenis en ‘n rykdom van kennis en talent wat in een onbesonne oomblik van selfbeheptheid weggevee is. Ek het die tannie nie geken nie, maar mag haar familie groot troos in hierdie tyd vind.

SNEL ·

Ai Thomas, so jammer dat jy nou my kommentaar so verkeerd opvat. Mens kan ook niks sê nie dan dink mense jy is ongevoelig. Het jy darem my tweede gedeelte van my kommentaar gelees toe jy nou so tot stilstand geruk was?

Jaycee ·

‘n Mens se lewe het inderwaarheid goedkoop geword in SA. Sterkte aan die naasbestaandes.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.