Lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) op patrollie in Mpumalanga het die afgelope twee weke drie gesteelde voertuie naby die Mosambiekse grens onderskep. Byna 500 kg se dagga is ook in die provinsie gekonfiskeer.
Luidens ʼn verklaring uitgereik deur die SANW is die eerste gesteelde voertuig, ʼn splinternuwe wit Toyota Hilux Legend ter waarde van R600 000, in die Steenbok-nedersetting digby die Mosambiekse grens teruggekry.
“Lede van die SANW en die polisie in Tonga het die voertuig langs die nedersetting se begraafplaas onderskep. Die bestuurder van die voertuig, ʼn 31-jarige man van Witbank, het na ʼn nabygeleë huis gevlug. Lede van die plaaslike gemeenskap het die verdagte uitgewys en hy is in hegtenis geneem,” lui die verklaring.
Volgens die SANW is ʼn oranje Toyota Legend met dieselfde waarde op dieselfde dag in die bosse buite die Dludluma-nedersetting gevind. Die voertuig was glo onderweg na die Mosambiekse grens.
“Die bestuurder van die voertuig het in die omliggende bosse gevlug en word nog gesoek. Die voertuig is aan die polisie in Komatipoort besorg.”
ʼn Derde voertuig – ʼn Ford Ranger ter waarde van R400 000 – is dieselfde week ook in die Dludluma-nedersetting teruggevind. Die voertuig, wat glo in Rustenburg gesteel is, het in ʼn sloot vasgeval.
“Weermaglede het die bakkie in die sloot opgespoor en terwyl hulle die voertuig genader het, het die bestuurder en passasier uit die voertuig gespring en gevlug.”
Verder het weermaglede by die Nerston-grenspos tussen Suid-Afrika en Eswatini dagga ter waarde R1 315 050 gekonfiskeer.
“Weermaglede het ʼn swaar gelaaide Toyota Hilux-enkelkajuit by die grenspos opgemerk en agterdogtig geraak. Hulle het die voertuig agternagesit en ʼn jaagtog het gevolg. Die bestuurder van die Hilux het tydens die jaagtog van die pad afgetrek en te voet in die bosse gevlug.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
10 Kommentare
Hoe en wie bereken so vinnig die waarde van die dagga?
Well done
Mens is verstom oor al die misdaad in ons land. Dit lyk regtig of die president en sy kabinet met oog en oorklappe loop. They hear nor see no evil! Patete!!
Op pad na die grens, om deur die skelm polisie en doeane beamptes deurgelaat te word. Skande!!!
Die dwelm handelaar se distribusie is gestop. Welgedaan. Nou is die “fonds” in die SAP se hande. Is hulle nie maar ook ‘n distribusie kanaal nie ? Vra maar net.