Drie gevonnis ná moord op Bloem-vrou  

Hannatjie Coetzee (Foto: Facebook)

Drie mans is die afgelope week in die hooggeregshof in Bloemfontein gevonnis in verband met die moord op Hannatjie Coetzee.

Teboho Cwele (26) is Vrydag tot effektief 20 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Coetzee asook vir huisroof. Lusindiso Hardy (26) en Teboho Lecheko (36) is tot agt jaar tronkstraf elk gevonnis vir die diefstal van ʼn voertuig.

Coetzee (69) is op 3 Februarie verlede jaar helder oordag in haar huis in Arboretum oorval en vermoor. Sy het net sowat ʼn week in die huis gebly nadat sy van Ballito na Bloemfontein verhuis het.

Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, het gesê Cwele het Coetzee op die betrokke dag in haar huis oorval en haar vermoor.

Hy het die sleutels van haar Toyota Hilux-bakkie gevat maar kon nie daarin slaag om die bakkie aan te skakel nie. Cwele het vir Hardy gebel, maar dié kon ook nie daarin slaag nie waarna hy vir Lecheko gebel het om te kom help.

“Die drie het in Lesotho se rigting gery nadat hulle reeds ʼn koper vir die bakkie gekry het.” Die polisie het die mans kort daarna voorgekeer en in hegtenis geneem.

Ivan Coetzee, Hannatjie se jongste seun, het destyds aan Maroela Media vertel dat sy ma na Bloemfontein verhuis het kort nadat sy haar tweede man, Gerhard Kruger, aan die dood afgestaan het.

Coetzee was oorspronklik van Bloemfontein en aangesien sy reeds afgetree het en baie familie en vriende in die Rosestad het, het sy besluit om te verhuis. Nadat sy vir die eerste ruk by familie vertoef het, het sy ʼn week voor die moord in die nuwe huis ingetrek.

Volgens Coetzee het sy ma die aand voor haar dood nog vriende onthaal waarna ʼn vriendin oorgeslaap het. Die vriendin het die volgende oggend huiswaarts gekeer, kort voordat Coetzee vermoor is.

“Sy was baie onafhanklik. Sy was jare lank die broodwinner in die huis. Ons is grootgemaak in ʼn huis met baie liefde,” het Ivan destyds gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
JJB

Strawwe is belaglik lig. ‘n Lewe is nou 20 jr werd…

Persheks Adri

Goed so! Laat hulle sit en geen parool kry nie ASB ons het nie sulke mense in die samelewing nodig nie!

Rus in vrede tannie!

Santie Gildenhuys

Die dae is verby wat ‘n vrou vir ‘n geweer, pistool of rewolwer gegril het… Kry ‘n skoot in nog voordat hy mooi weet waar hy is…

Frederik C

20 Jaar vir ‘n wrede moord ?? G’n wonder SA staan op 58 moorde p/dag nie.

Melanie

rus sag. sterkte aan die familie..