Drie gevonnis ná plaasmoord

Argieffoto: Nico Strydom

ʼn Man en twee vroue is Donderdag in die hooggeregshof in Mthunzini in KwaZulu-Natal gevonnis nadat Peter Johnson (56) in Junie 2015 op ʼn plaas in die Nyoni-gebied doodgeskiet is.

Maroela Media het vroeër berig Johnson en sy broer, Ian, is omstreeks 19:00 op 2 Junie 2015 deur drie gewapende aanvallers op hul plaas oorval. Peter is tydens die aanval doodgeskiet, terwyl Ian gewond is. Een van die broers se vrou was ook ten tyde van die voorval in die huis.

Een van die aanvallers, Sabelo Zulu (22), is tydens die aanval gewond en op die toneel in hegtenis geneem. Die ander twee aanvallers het drie vuurwapens geroof en op die vlug geslaan. Twee vroue, Nana Madikane (44) en Thandiwe Cele (54), is later ook in verband met die aanval in hegtenis geneem. Madikane en Cele het gehelp om die plaasaanval te reël.

Zulu is Donderdag lewenslange tronkstraf opgelê vir Johnson se moord, 12 jaar vir poging tot moord en 15 jaar vir roof. Madikane is ses jaar tronkstraf vir roof opgelê, terwyl Cele tot vier jaar tronkstraf op ʼn aanklag van roof gevonnis is.

Kol. Thembeka Mbhele, woordvoerder van die polisie, het gesê ’n vierde verdagte, Sandile Mjadu (30), is tydens die polisie se ondersoek in die KwaMbonambi-gebied doodgeskiet toe die polisie hom in verband met ander misdade in hegtenis wou neem. ʼn Vuurwapen wat tydens die plaasaanval geroof is, is in Mjadu se besit gevind.

Genl.maj. Bheki Langa, waarnemende polisiekommissaris in KwaZulu-Natal, het die vonnisse verwelkom. “Die saak is nog nie gefinaliseer nie, aangesien daar nog verdagtes op vrye voet is,” het Langa gesê.

“Ons kan nie toelaat dat onskuldige mense deur misdadigers aangeval en vermoor word nie. Ons sal seker maak dat die plattelandse gemeenskap en alle mense wat op plase woon, beskerm word deur gereelde patrollies in hierdie areas te doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Afrikaanse Knaap ·

Eks bly om te hoor dat die manne nog gevang word.

snoefie ·

die vroue was aandadig aan elke misdaad wat op 12 Junie 2015 op daardie plaas gepleeg was en moes swaarder strawwe opgelê gewees het.

Lollie ·

Hulle moet swaarder gestraf word en dan ook nie in aanmerking kom vir parool nie. Hulle moet hulle volle tyd sit anders help die straf ook niks.

Cas ·

Nog ‘n bewys dat Volkekundiges, Antropoloe, Opvoedkundiges, Sosioloe en Sielkundiges as ‘n multi-dissiplinere span aanboord moet kom om te help om oplossings vir ‘n probleem wat nie met dronkstraf beheer sal kan word nie. Ouers wat kinders het wat hulle nooit moes gehad het nie moet nie gesubsidieer word nie, hulle moet aan die pen ry. Dan sal hulle 2x dink, voordat hulle kinders het.

Anarchy ·

Dis lewenslange wat 25 jaar is plus 12 jaar vir poging tot moord en 15 jaar vir roof.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.