Drie gevonnis oor onwettige lisensies

Argieffoto: www.services.gov.za

’n Verkeersbeampte van Villiersdorp in die Wes-Kaap en twee werknemers van ’n plaaslike bestuurskool is Dinsdag gevonnis vir die verkoop van onwettige bestuurs- en leerlinglisensies nadat die polisie ʼn lokval gestel het om die skuldiges vas te trek.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê Piet Sykes, die verkeersbeampte, en Vuyani Faku en Mafa Ramaola, werknemers van die bestuurskool, is almal aan korrupsie skuldig bevind. Sykes is ʼn boete van R12 000 of 12 maande tronkstraf opgelê, asook ʼn verdere vyf jaar tronkstraf wat in geheel opgeskort is. Faku en Ramaola is tot ses jaar tronkstraf gevonnis wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is mits hulle nie in dié tyd aan soortgelyke aanklagte skuldig bevind word nie.

ʼn Vierde beskuldigde, Ivan Basson, die eienaar van die bestuurskool, is oorlede voordat die verhoor begin het.

Ntabazalila het gesê adv. Xolile Jonas vir die staat het aan die gespesialiseerde kommersiële misdaadhof in Belville gesê dat ’n lokval in Junie 2013 vir die oortreders gestel is, nadat inligting van dié slenter ontvang is.

Die oortreders se onwettige bedrywighede is egter deur die polisie ontmasker, nadat ’n geheime beampte Faku en Ramaola op 13 Junie 2013 ontmoet het onder die voorwendsel dat hy ’n bestuurslisensie onwettig wou bekom. Die agent het geld aan die oortreders betaal wat gereël het dat die agent toegelaat sou word om notas saam met hom in die toetslokaal in te neem waarop al die antwoorde geskryf is van die bestuurslisensietoets wat hy sou skryf. Die agent is ook verseker dat hy nie tydens die toets oor dié notas in die moeilikheid sou beland nie, aangesien Sykes van die transaksie ingelig sou word en deel van die slenter is.

Die agent het sy toets met behulp van die notas geskryf en sy antwoordblad ingehandig. Hy is later ingelig dat hy sy leerlinglisensie geslaag het. Later die middag het die polisie op die bestuurskool toegeslaan en die vier betrokkenes in hegtenis geneem.

Jonas het gesê dat al vier beskuldigdes in die oortreding saamgewerk het en finansieel voordeel getrek het uit die korrupte bedrywighede.

Ntabazalila het namens die NVG die vonnis verwelkom en gesê hy hoop dat nog mense na vore sal kom om dié soort korrupsie aan die lig te bring omdat dit die lewe van duisende mense in gevaar stel wanneer ongekwalifiseerde bestuurders op bedrieglike wyse lisensies bekom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

G ·

Hulle moes almal toegesluit het vir Moord hoeveel van daai mense wat hulle lisensies so bekom het was betrokke in ongelukke en onskuldige mense is dood

Vra maar net

Zoro ·

Bestuursskole is die bron van koruppsie en dit begin by die klerkke wat die afsprake hanteer dié afsprake word verkoop aan bestuursskole dit baie-baie moeilik vir n publiekslid om afsprake te bekom die wagtyd is maande – werk deur n bestuurs skool en jy kan elk week n afspraak bakom – die bestuurs skool se slaagsyfer is hoog sodat almal deur hulle werk , wat sommige ‘instrukteurs’ van weet K53 is n gevaar solank jy kan betaal. En dis nie asof die verkeershoofde nie weet van die praktyke nie. Goeie n blinde oog – alle klansulasie word vir bestuursskole uit gehou. So word die eerlike publiek ingetrek in die gemors

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.