Drie gevonnis twee jaar ná plaasaanval

Die boer en aanvallers het op mekaar geskiet. Foto: Heritage Protection Group

Drie mans is in die hooggeregshof in Polokwane gevonnis in verband met ʼn aanval twee jaar gelede op ʼn paartjie op ʼn plaas buite Marble Hall in Mpumalanga waartydens een van hul makkers doodgeskiet is.

Die hof het Kenny Hlongwane (41) 25 jaar tronkstraf opgelê en Mpho Maila (30) en Caissus Ntjana (32) elkeen tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hulle skuldig bevind is aan poging tot moord, roof met verswarende omstandighede, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, asook huisbraak met die opset om te roof.

Die drie veroordeeldes is op 9 November 2016 in hegtenis geneem nadat hulle die egpaar in hul huis op ʼn kleinhoewe in die Du Toitskraal-omgewing oorval, vasgebind en aangerand het.

Hulle het onder meer vuurwapens uit ʼn kluis en selfone in die man se kombi gelaai wat buite die huis gestaan het. Hulle het met die kombi probeer vlug, maar teen ʼn heining vasgery.

Intussen kon die boer homself loswikkel en ʼn haelgeweer in die hande kry, wat hy snags by hom gehou het. Die aanvallers het op die 33-jarige boer begin skiet. Hy het teruggeskiet.

Een van die aanvallers is langs die heining doodgeskiet, terwyl die ander drie op die vlug geslaan het. Lede van die Heritage Protection Group het kort ná die aanval die aanvallers se spore gevolg en ʼn ernstig gewonde verdagte ʼn ent van die huis af aangetref waar hy weggekruip het.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, Limpopo se polisiekommissaris, het die drie se vonnisse verwelkom. “Ek hoop dit dra ʼn duidelike boodskap oor dat die polisie alles in hul vermoë sal doen om oortreders op te spoor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Lou ·

Lewenslank klink baie goed maar hoe lank gaan hulle werklik sit. Nie te min is dit bemoedigend om te sien daar is nog howe wat gepaste strawwe oplê.

GES ·

Dit is ontstellend om elke keer van ʼn plaasaanval te hoor of te lees. Wat egter baie positief is, is die feit dat die boere terugveg. Hierdie boodskap moet so wyd en ver as moontlik uitgedra word.

Gert ·

Wonder net hoekom moes Agriforum eers Suid Afrika se gemors aan die buiteland uitwys voor hulle aan plaasaanvalle n bietjie aandag gee.

Johanna Botha ·

Nou moet ons duime hou hulle noe uit aanhouding ontsnap nie ?

My opinie ·

Maak ‘n mens nogal dink, die twee wat lewenslank gaan “sit” het nou ‘n lekker pensioen. Kry kos, klere en opvoeding verniet. So vir hulle swak gedrag word hulle nou eintlik beloon met dieselfde belonings as waarvoor hulle eintlik moes werk – maar nee. Kom ons plunder en moor om te vat wat nie aan ons behoort nie net om weg gevat te word uit samelewing as straf terwyl ek beter gaan af wees as wat ek was. Tyd dat mense begin saam staan wat doodstraf behels soos wat hulle gedoen het om e-tol tot ‘n einde te bring.

Matt ·

….. en die beste van alles is dat terwyl hulle in die tronk sit, kry hulle gesinne ‘n toelaag van die staat omdat die broodwinner nou nie vir sy gesin kan sorg nie. Dit betaal om ‘n krimineel te wees….. maar die slagoffers kry geen ondersteuning nie.

jakes ·

Moenie vergeet dat gevangenis wat tronkstraf uitdien en in die tronk werk, ook n salaris ontvang.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.