Drie gevonnis vir Ekurhuleni-tenderbedrog van R21,8 miljoen

(Foto: SOE/Twitter)

Twee voormalige werknemers van die Ekurhuleni-metro en ’n sakeman is Woensdag in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria gevonnis vir tenderbedrog van R21,8 miljoen.

Velero David (36), Nilesh Singh (49) en Andrew Mphushomadi (46) is gesamentlik tot 36 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis.

Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het gesê die drie is skuldig bevind aan bedrog, korrupsie en die besit van opbrengs van onwettige aktiwiteite.

David, eienaar van Meropa Sechabeng Technology, is tot 10 jaar tronkstraf gevonnis vir bedrog en 15 jaar direkte gevangenisstraf vir korrupsie. Singh, ’n voormalige IT-bestuurder van die metro, is tot 10 jaar vir bedrog en 15 jaar direkte gevangenisstraf vir korrupsie gevonnis. Die landdros het gelas dat die vonnisse samelopend uitgedien word. Mphushomadi, voormalige senior IT-bestuurder van die metro, is tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan vier jaar opgeskort is. Meropa Sechabeng Technology, verteenwoordig deur David, en Nanga Transport, verteenwoordig deur Princes Dlongolo, Mphushomadi se vrou, is ’n boete van R600 000 opgelê, wat ten volle vir vyf jaar opgeskort is.

Die Ekurhuleni-metro het in September 2007 ’n kontrak geadverteer vir die verskaffing, installering en instandhouding van rekenaar- en rekenaarhulpkomponente. Meropa, wat eers op 15 Junie 2007 geregistreer is, het die tender van R21 miljoen op 7 April 2008 gekry. David het in sy boddokumente verklaar dat hy geen betrekkinge het met persone betrokke by die evaluering en beoordeling van die bod nie. David en Singh is egter verwant en Singh was by Meropa betrokke terwyl David en Mphushomadi ’n sakeverhouding gehad het.

Met vonnisoplegging het die landdros gesê bedrog, diefstal en korrupsie het ’n verwoestende uitwerking op die land en bedreig die grondwetlike orde, en die howe moet dit daarom ferm hanteer. Die veroordeelde bedrieërs se aansoek om verlof tot appèl sal op 26 Mei aangehoor word.

Mondli Gungubele, minister in die presidensie, het gesê die uitspraak sal dien as ’n afskrikmiddel vir enige persone wat by enige vorm van korrupsie betrokke is. Volgens Gungubele is die vonnis ’n bewys van die daadwerklike stappe wat die regering sal doen om korrupte aktiwiteite bloot te lê en te straf.

“Die bekamping van korrupsie en die bevordering van goeie bestuur is ’n fundamentele prioriteit van hierdie administrasie. Staatsamptenare moet korrupsie met mening uitroei, en ’n kultuur van dienslewering en uitnemendheid skep. Daar word baie werk deur die regering en sy vennote gedoen om hierdie plaag te beveg, en ons is vol vertroue dat ons meer skuldigbevindings in korrupsieverwante sake sal sien. Ons loof die spesiale ondersoekeenheid en die regstelsel vir hul puik werk,” het Gungubele bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

E ·

Ek lees nie van beslaglegging van bates nie, is dit net ok dat die belastingbetaler hulle verryk het met R 21 M?

Snowball ·

David en Singh is verwant, maar Zweli Mkhise se eie seun is nie aan hom verwant nie (ek sukkel nog om dit te begryp). Nietemin, enige vervolging is seker beter as niks – ongelukkig Gungubele is hier ‘n voorbeeld en groot hoeha gemaak van ‘small fry’ terwyl die kadertjies se nessies dikgeveer bly sonder vervolging.

Smurf ·

As hulle dan nou so besorg is oor die korrupsie en bedrog wat die land lamle en n “boodskap” wil uitstuur , waarom dan nie vir rooikappies en zum zummers oranje pakkies skenk nie , hulle kan dit gratis kry….

RB ·

Hierdie is klein vissies. Enigste afskrikmiddel hier is om boodskap te stuur wat lui: small crime doesn’t pay – mnr die minister!
Hoe groter die bedrog, korrupsie en diefstal hoe beter want dan is n tik oor die vingers die ergste gevolg.

Tot ons die groot visse sièn sit vir n tyd wat die mate van hul gulsigheid pas, sal my stelling 100% korrek wees.

Casper ·

Hierdie vonnisse sal nooit dien as afskrikmiddel nie anders sou daar nie meer sulke misdrywe in piesanand gewees het nie.hoe kan dit 36 jaar wees as die vonnisse samelopend uitgedien word.

Witbaard ·

Tronkstraf is goed, maar waars die geld? Kon tog seker nie die hele 21 miljoen uitgegee het nie.

Waarnemer ·

Ek verbaas my hoe vinnig n gewone lid vd publiek se bedrog saak afgehandel word maar jacoppie se saak sloer al 20 jaar……bedrog is bedrog of dit nou piet vd onderdorp is of jacoppie of charlie romeo vd parlement is.Skeer almal oor een kam.

Eugene ·

12 jaar om tot hier te kom en dan loof die minister in die presidensie (wat dit ookal is) die ondersoekeenheid en die regstelsel. Wat n grap daar word nie eens n sent terugbetaal nie. Die kastige boetes word opgeskort. Nee wat ons hele stelsel is verdraai en befoeter. Die stelsel maak dit vir mense makluk om bedrog te pleeg en daar is nie behoorlike streng en vinnige optrede nie. Nou gaan daar nog geld op n appèl aansoek verhoor gemors word en so gaan die kriminele voort

Marius ·

Dit is belaglik . Ek kan nie anders om te wonder hoeveel die belastingbetalers moet opdok vir die grap nie???

DEON ·

Well done, wat van die geld en wanneer word die kurrupte regering so gestraf.

Di ·

Neem beslag op al hulle bates om sodoende die geld terug te kry. Dit help NIKS as die geld nie verhaal kan word nie, so is biljoene al weg!

Strandloper ·

NVG staan tog vir Nooit Vonnise Guaranteed. So hoekom moan almal?

domheks ·

En wie betaal die geld terug? Maar op ons magies skryf en doodvee? Die goed kos ons net nog meer geld in die tronk!

Renier ·

Hulle het nou geld,uit in 3….vir goeie gedrag. En om nie hulle makkers te split nie.

piet ·

Sal jy net so 5 jaar sit as jy 5 miljoen “ge-pocket” het in die proses (wat nie terugbetaal is nie)? Ek weet nie, ek sal dit dalk oorweeg. Kan dalk die moeite werd wees.

Blikkies ·

Korrupsie verwoes die land. Die vonnise te lig, samelopend en opgeskorte vonnise daarby, en dan nog steeds die reg om te appeleer? Ons gaan nerens heen nie.

Nie Verbaas ·

Dit was vinnig. Wat van Magashule, Zuma en ander, of is dit nog n 20 jaar poging?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.