Drie gevonnis wat man 37 keer skiet

Elgershin Goliath, Nealon Redhouse en Deon Harmse in die hof. (Foto: ANA)

Drie mans wat skuldig bevind is aan die beplande moord op die bekende bendeleier en dwelmbaas, Donovan “Staal” Berry, is Maandag in die hooggeregshof in Port Elizabeth tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Eldgershin Goliath (31), Nealon Redhouse (21) en Deon Harmse (25) is skuldig bevind aan die moord op Berry in 2016 waartydens hy 37 keer geskiet is. Berry is in die kop en bolyf geskiet buite ʼn winkel in Barberrystraat in Bethelsdorp.

Goliath is skuldig bevind op ʼn aanklag van moord met voorbedagte rade, terwyl Redhouse en Harmse op bykomende aanklagte van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie skuldig bevind is.

Redhouse en Harmse is elkeen ʼn bykomende agt jaar tronkstraf opgelê wat samelopend met hul lewenslange vonnisse uitgedien sal word.

Redhouse en Harmse is vroeër ook skuldig bevind aan die moord op die 12-jarige Aaliyah “Angel” Tee in Junie 2016, en poging tot moord op haar pa, Edmund, en haar ma, Candice. Die Tee-egpaar het getuig hulle het gesien hoe Berry vermoor word. Die moord het reg oorkant hul huis gebeur.

Waarnemende regter Nicholas Mullens het tydens sy vonnisoplegging gesê die mans kan net hulself verwyt vir die gevolge van hul dade. Hy het Berry se moord as “gevoelloos en brutaal” bestempel.

“Dit was niks minder nie as ʼn voorafbeplande teregstelling,” het Mullens gesê.

Die mans het vroeër beweer hulle was bang hulle is Berry se volgende teiken. Mullens het egter dié bewerings verwerp en gesê daar is geen bewyse gelewer om dit te staaf nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Michelle ·

Die was ‘n (over kill) ek weet nie of die klompie te veel Columbia stories kyk of wat hul probleem is nie maar die bende geweld moet die swaarste straf moontlik kry hul moet nie parool kry nie en lewens lank klink vir my reg. Bly binne agter tralies dis waar hul hoort.

jakes ·

Tronkstraf beteken niks vir hierdie kriminele nie. Die tronke is vol 26 en 28 bendes en daar kry hulle soveel dwelms as wat hulle wil he.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.