Die polisie in die Wes-Kaap het Dinsdag drie mans in hegtenis geneem in verband met ʼn gewapende roof by ʼn juwelierswarewinkel in Caledon.
“Lede van die Grabouw-polisie het omstreeks 10:35 reageer op inligting oor ʼn donkerrooikleurige Jeep met drie verdagtes wat glo betrokke was by die rooftog,” het kapt. FC van Wyk gesê. “ʼn Onbekende gewapende man het die winkel omstreeks 10:10 betree en die twee winkelassistente gedreig terwyl nog ʼn verdagte die winkel met sakke en plastiekkabelbindertjies betree het.”
Die alarm het afgegaan en die verdagtes het van die toneel gevlug. “Die polisie is in kennis gestel van die voorval en ʼn algemene aankondiging is na al die polisiestasies in die gebied gemaak,” het Van Wyk bygevoeg.
Die voertuig is op die N2 buite Grabouw voorgekeer. “Drie verdagtes, wat voldoen aan die beskrywing wat verskaf is, tussen 26 en 31 jaar oud, is in hegtenis geneem. Die polisie het op die toneel beslag gelê op twee 9 mm-pistole, een .38-rewolwer en ammunisie. Die vuurwapens se reeksnommers is afgevyl.”
Die verdagtes sal binnekort in die Caledon-landdroshof verskyn.
Eish? Amateurs…
Goeie werk SAPD!
Alle eer vir hierdie inligting / arrestasie kom die 2 Telkom ondersoekers toe wat die verdagte voertuig opgemerk, vir kilometers aaneen op die N2 agtervolg het en die hulp van die SAPS ingeroep het.
Goeie werk SAPD! Hou so aan!