Drie grotes binnekort terug in die lug

(Foto: Unsplash)

Lente is in die lug en binnekort ook drie ou bekendes van die Suid-Afrikaanse lugruim – die beleërde Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), Comair se Kulula.com en plaaslike British Airways-bedrywighede. Lift, die jongste lugdienslid, het sy vlugte reeds op 1 Augustus hervat nadat hy tydens die onlangse vlak 4-inperking vir bykans ’n maand in ’n houpatroon gesirkel het.

FlySafair, met sy kenmerkende wit romp en pienk en blou stert wat in 2013 begin is, het ’n pronkposisie in die plaaslike mark sedert die uitbreking van die Covid-19-pandemie. Vir maande was die Springbokke se impaklugdiens die baas van die plaas en hy spog met die grootste passasiersvolume.

Daar lê ongetwyfeld ’n opwindende tydperk vir die sektor voor soos die ander rolspelers van die krukkelys af terugkeer. Maar die speelveld is allermins gelyk. Enersyds het passasiers uiteindelik weer ’n uitgebreide keuse van diensverskaffers en andersyds gaan dit ’n gefladder van vere afgee soos die onderskeie lugdienste skarrel om veld te wen en ʼn verlore markaandeel te herwin.

Reisigers is uitgehonger om die pad te vat, maar moet ook die bestedingsgordel intrek. Met Suid-Afrika se rooilysstatus wat die droom van ’n wit Kersfees in Europa nog tot prentjies en poskaarte beperk, is sakpasvlugte hiér vir eers die veilige en voorkeuropsie. Daarom is ’n plaaslike prysskermutseling so te sê gewaarborg.

Só staan sake met dié sektor-ses

SAL

Die sukkelende SAL se vlerke was vir byna twee jaar geknip en beplan om sy vlugte op 24 September te hervat. Dit kom nadat hy vroeër die maand ’n nuwe lugdiensbedryfsertifikaat by die Burgerlugvaartowerheid (BLO) gekry het. Hy sal aanvanklik slegs tussen Johannesburg en Kaapstad, Akkra (Ghana), Maputo (Mosambiek), Lusaka (Zambië) Kinshasa (Kongo) en Harare (Zimbabwe) pendel.

Aanvraag sal volgens dié lugdiens die uitbreiding van sy vlugte dikteer. Thomas Kgokolo, tussentydse uitvoerende hoof, is verheug oor die SAL se dienshervatting, maar voeg by dat hy deeglik bewus is van die uitdagings wat die volgende paar maande voorlê.

Mango

Die laekostelugdiens Mango, wat in 2006 as ’n filiaal van die SAL op die been gebring is, is vroeër vandeesmaand in sakeredding geplaas, terugwerkend vanaf 28 Julie, nadat die Johannesburgse hooggeregshof gesê het hy mag in vrywillige sakeredding gaan. Sipho Sono, besturende direkteur van Opis Advisory, is as sakeredder aangestel.

Dit kan maande duur vir die lugdiens om weer van die grond af te kom. Die SAL se sakereddingsproses het 17 maande geneem en Mango word lamgelê deur ’n skuldlas van byna R2,5 miljard.

Comair

Kulula.com en British Airways, wat op 5 Julie halt geroep het, kom op 1 September uit die blokke met British Airways se vlugte na Mauritius wat na verwagting einde November hervat sal word.

Gedurende die opskortingstydperk het Comair gesê dat hy nuwe, buigsame tariefopsies ontwikkel het. Drie nuwe Kulula.com-aanbiedings sluit in Fly Light (as jy net kajuitbagasie het), Pack & Go (20 kg-bagasie en twee vlugveranderings ingesluit) en Fully Loaded (wat onbepaalde vlugveranderings insluit).

Lift

Lift, wat tans net vlugte tussen Johannesburg en Kaapstad bied, is aangevuur deur Gidon Novick, baasbrein agter Kulula.com se laekostesuksesverhaal.

Novick is die uitvoerende hoof van die Takatso-konsortium, wat insluit Global Aviation en Harith Global Partners (’n beleggingsfirma vir Afrika-infrastruktuur wat onder meer die Lanseria-lughawe besit), wat ’n 51%-belang in die “nuwe” SAL hou. Die konsortium het ’n inspuiting van R3 miljard vir die SAL gegee.

Of Lift sy regstreekse mededinger Mango met ope arms sal terug verwelkom, is te betwyfel.

Airlink

Airlink bestaan sedert 1992 en is die grootste plaaslike lugdiens in terme van vloot, hoewel sy vliegtuie baie kleiner is. Die lugdiens het ook die grootste vastrapplek op die vasteland.

In 2019 het Airlink meer as twee miljoen passasiers op meer as 63 000 vlugte vervoer en sy netwerk bestaan uit meer as 30 bestemmings in tien Afrikalande asook St. Helena.

CemAir

Die streeklugdiens CemAir, wat in 2005 gestig is, het in 2018 die wind van voor gekry toe die BLO die lugwaardigheidsertifikaat vir 12 van sy vliegtuie teruggetrek het. Die besluit is in Mei 2019 omgekeer, met bedryfsertifikate wat in Oktober dié jaar suksesvol hernu is.

Sedertdien tel CemAir spoed op en hy het onlangs samewerkingsooreenkomste met onder meer Qatar, Proflight Zambia en Ethiopian Airlines beklink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

JohanR ·

Sal NOOIT en NOOIT WEER op ‘n SAL vlug klim nie, al is dit die laaste vlug uit Afghanistan uit!

Hardekwas ·

Ek sal saam vlieg, slegs as dit die laagste vlug uit suid afrika is.

Nie Verbaas ·

En wie gaan sy/haar lewe waag om met ons BEE vlieëniers saam te vlieg wat 94 ton berekening foute maak? Nee dankie. Gelukkig was hulle in n vliegtuig wat self onbevoegdheid kan erken en dan sake oorneem. Die Airbus lag nou nog.

Henk ·

Vir jou eie veiligheid, moenie met SAL of enige maatskapye betrokke by hulle, vlieg nie.

KB ·

Ek glo SAA en Mango het self hul eie doodsvonnis onderteken. Daar is ander betroubare (en goeie/positiewe) alternatiewe.

“As jy wil hoor nie, gaan jy voel”.

Hardekwas ·

Elkeen wat SAL vlieg is n verraaier van die belastingbetalers van hierdie land.

Nico ·

Nooit weer sal ek met SAL vlieg, ons is van plan om 2022 by my seun in Duitsland te gaan kuier sal eerder met Lufthansa of een van die ander maatskappye vlieg.

Realis Thailand ·

Sal sal buitendien nie weer na Duitsland vlieg nie.
Ek glo vas hulle sal nie weer na Europa vlieg aangesien daar geen passasiers gaan wees en ook nie betroubare vliegtuie nie

Realis Thailand ·

Net om julle dag te maak oor SAA . Die lugdiens gaan tussen 2012 en 2025 een en sestig miljard Rand benodig om aan die gang te bly en dit gaan net die lenings deel wees.maw skuld.
Wie gaan geld aan hulle leen. Die banke???
Wie gaan betaal. Die belasting betalers in SA

Pietertjie ·

Verwys die opskrif na hoe groot die gemors is waarin hulle is? Bankrot, méér bankrot en hopeloos verby?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.