Drie hoor binnekort lot ná verkeersbeampte se skietdood

Argieffoto

Drie mense wat aangekla word van die moord op ʼn verkeersbeampte terwyl hy aan diens was, hoor vandeesweek hul lot.

Kapt. Dineo Sekgotodi, woordvoerder van die Valke in Mpumalanga, het gesê die beskuldigdes, Thabiso Mohoesi (33), Palesa Letabane (21) en Tshepo Mashible (30), het Maandag in die Delmas-hooggeregshof verskyn op verskeie aanklagte, waaronder die moord op Bongani Nkumba, wat by die Standerton-verkeersdepartement gevestig was.

“Die beampte het op 5 Augustus verlede jaar sy pligte in Meyerville op die Vrede-pad uitgevoer toe hy ʼn swart Jeep op ʼn verbode plek sien stilhou het. Die bestuurder het stilgehou om ʼn ryloper op te laai. Nkumba het die voertuig genader en die bestuurder versoek om sy bestuurslisensie te wys,” het Sekgotodi gesê.

Die beampte het die bestuurder in kennis gestel hy gaan beboet word en geneem word om sy bloedalkoholvlak te toets.

Die verkeersbeampte het die bestuurder versoek om na sy ampsvoertuig te gaan sodat hy ʼn boete kon uitskryf. Die bestuurder het ʼn vuurwapen uit die voertuig geneem en in sy broek se regtersak gesit, die verkeersbeampte gevolg en op hom losgebrand.

“Ooggetuies het getuig dat hulle verskeie skote gehoor en gesien het hoe die hartelose moordenaar terug na sy Jeep hardloop en teen ʼn hoë spoed wegjaag. Die polisie is ontbied en hulle het die voertuig agtervolg en by die Maserubrug-grenspos opgespoor, waarna drie verdagtes in hegtenis geneem is.”

Die verdagtes het al verskeie kere in die hof verskyn en in aanhouding gebly nadat borgtog geweier is.

Uitspraak in die saak gaan na verwagting Donderdag in die Delmas-hooggeregshof gelewer word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

LOSKOP ·

Hoekom nie ook hul gesigte wys soos wat met die ander gedoen word

Kay ·

Hoekom is alle moorde nie so gou opgelos en in die nuus nie.. hoekom is die vermoorde spesiaal..wonder maar net ? Wil graag sien dat alle moorde in die land dieselfde toegewydheid kry ..en opgelos word !!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.