Drie in Durban dood tydens polisieskietery

Argieffoto: SAPD / Facebook

Argieffoto: SAPD / Facebook

Drie vermeende bendelede is Saterdagoggend vroeg in Durban, KwaZulu-Natal, dood tydens ʼn skietery met die polisie.

“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens se nasionale ingrypingseenheid, die Valke, die honde-eenheid, Durban se blitspatrollie, polisie van KwaMashu, en die KwaZulu-Natalse oorlogskamer was betrokke by die ondersoek oor ʼn bende wat glo betrokke was in die Seven Oaks-skietery,” het brig. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die polisie is na ʼn hostel in Kholwaweg in KwaMashu en het op ʼn huis toegeslaan waar die vermeende skieters snoeker gespeel het.”

Volgens Naicker het die polisie hulself aangekondig en die verdagtes het dadelik op hulle begin skiet. “Die polisiebeamptes het teruggeskiet en drie verdagtes is noodlottig gewond. Die ander het gevlug,” het hy gesê.

Die polisie het op drie vuurwapens beslag gelê op die toneel – twee pistole en ʼn rewolwer, waarvan die reeksnommers afgevyl is.

Die polisie in KwaMashu ondersoek ʼn saak van poging tot moord en doen ʼn geregtelike doodsondersoek. Die gekonfiskeerde vuurwapens sal vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of dit tydens enige ander misdade gebruik is.

“Die polisie is steeds op soek na die voortvlugtiges,” het Naicker bygevoeg.

Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni het die polisiebeamptes geloof vir die operasie en dat hulle die vuurwapens gevind het. “Dit is kommerwekkend dat hierdie gesoekte mans in die hostel weggekruip het,” het sy gesê. “Ons doen ʼn beroep op die gemeenskap om nie misdadigers te huisves nie. Hierdie gedrag dra by tot die ernstige en gewelddadige misdade in dié hostel.”

Maroela Media het vroeër berig ses rowers is op 20 November naby Seven Oaks doodgeskiet, ure nadat hulle glo ʼn rooftog uitgevoer het in Newcastle, ongeveer 200 km daarvandaan. Maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het in daardie stadium gesê die mans het in vier motors gery, en polisiebeamptes het hulle buite Seven Oaks, ongeveer 20 km suid van Greytown, gekonfronteer. Ses van die verdagtes is tydens die skietery dood en drie is beseer. Nie een van die polisiebeamptes is gewond nie.

Verdagtes in twee van die motors het gevlug en een van die motors is later verlate aangetref naby Pinetown. Die vierde motor is nog nie opgespoor nie. Zwane het gesê dit is nie duidelik hoeveel persone in die twee motors gery het wat weggejaag het nie.

Die polisie vermoed die bende was betrokke in ʼn reeks sakerooftogte en was moontlik ook verantwoordelik vir die dood van minstens een polisiebeampte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

humor ·

Heel goed gedoen. Kan die publiek ingelig word wat word van al die vuurwapens wat gekonfiskeer word. Met korrupte polisie wat beslis werksaam is kan dit vir iemand nogal n handige inkomste bied.

Lynette ·

Hulle word geloof ondat die wapens gevind is. Goeie genade, dis slegs die 3 wat doodgeskiet is, se wapens!!! Dit sou baie snaaks wees as hulle dit nie ‘gevind’ het nie!!!!

Karolis ·

Wel gedaan. Ek wonder net hoe het die verdagtes weggevlug met so ‘n magdom van beamptes wat op hulle toegesak het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.