Drie in hof ná dubbelmoord by begrafnis

Argieffoto

Drie verdagtes het Maandag in die Praktiseer-landdroshof in Limpopo verskyn in verband met ʼn voorval waarin twee mans by die begraafplaas van die Mashifane-nedersetting in die Ga-Mashamothane-gebied deur begrafnisgangers vermoor is.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê Jane Makofane (47), Eric Magale (59) en Confort Magale (19) het in die hof verskyn op twee aanklagte van moord, skending van ʼn graf, opsetlike saakbeskadiging en besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen. Al drie beskuldigdes is van die Ga-Mashamothane-nedersetting buite Burgersfort.

ʼn Vierde verdagte wat oor die naweek in hegtenis geneem is, is intussen vrygelaat omdat sy nie in dié stadium met die voorval verbind kon word nie.

Ngoepe het gesê die polisie versoek Sydney Makofane om by die Tubatse-polisiestasie of sy naaste polisiestasie aan te meld omdat hulle glo dat hy die polisie in hul ondersoek kan bystaan.

Maroela Media het vroeër berig lede van die gemeenskap van Tubatse het glo Saterdag ʼn vrou in die begraafplaas van die Mashifane-nedersetting begrawe toe die groep skielik die oorledene se man en nog ʼn man aangeval het.

Van die begrafnisgangers het die mans met verskeie voorwerpe aangeval en gegooi voordat een begrafnisganger ʼn vuurwapen uitgehaal en hulle doodgeskiet het. Die groep het toe die mans se liggame aan die brand gesteek, hulle liggame in die graf gegooi en die vrou se kis bo-op hulle laat sak.

Die motief vir die moorde is nog nie bekend nie.

Die saak is tot 15 Januarie uitgestel wanneer die drie beskuldigdes om borgtog sal aansoek doen. Nog inhegtenisnemings word verwag.

Enigiemand met meer inligting wat tot die inhegtenisnemings van die res van die verdagtes kan lei, word versoek om kol. Mahlathini Ngele by 082 573 3645 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elsa ·

Sigbare Polisie en Sekuriteite ook ontplooi by begraafplaase landswyd,
niemand nerens veilig en booswigte skrik vir niks, tyd dat daat daadwerklik aandag aangegee word… gevoellose mense hoort elders opgevoed te word…respek, waardigheid

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.