Drie in hof na grumoorde in Limpopo

(Argieffoto: Unsplash)

Die drie verdagtes wat beskuldig word van die moord op ʼn Limpopo-paartjie wie se liggame langs hul destyds een jaar oue baba aangetref is, het Vrydag vlugtig in die Bolobedu-landdroshof verskyn.

Peter Tshiodze (34), Matome Godfrey Motolla (36) en Mmbofbeni Steven Shirindan (47) staan tereg op twee aanklagte van moord, verkragting en gewapende roof. Sommige items wat aan die oorledenes behoort het, is by hulle aangetref.

Nius Malatjie (21) en Lucia Malapane (18) is in Oktober verlede jaar in hul huis in Ga-Rapitsi vermoor. Malatjie se buurman, wat ook sy werkgewer was, is op daardie dag na die huis om uit te vind hoekom Malatjie nie vir werk opgedaag het nie.

Hy het op die jong ouers se liggame afgekom terwyl hul baba huilend langs hul lyke gesit het. Die twee is etlike kere met ʼn voorwerp gesteek.

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder, sê die drie sal oor ʼn week weer in die hof verskyn wanneer hulle na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

Maroela Media het vroeër berig dié moorde het tot gewelddadige betogings deur inwoners van die gebied gelei nadat hulle die sakeman wat op die liggame afgekom het, van die moorde verdink het.

Sy winkel en een van sy voertuie is aan die brand gesteek, waarna die groep na sy huis is waar hulle dit ook afgebrand en selfs sy varke, hoenders en bokke vrekgemaak het.

Die aanvallers het daarna gevlug en geen inhegtenisnemings was tot dusver in verband met dié voorvalle gedoen nie.

Die polisie het vroeër bevestig die sakeman word nie met die moorde verbind nie en is ook nie een van die drie verdagtes wat aangekeer is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Menan ·

“Die polisie het vroeër bevestig die sakeman word nie met die moorde verbind nie en is ook nie een van die drie verdagtes wat aangekeer is nie.” – is dit nie dieselfde drie wat weer volgende week gaan aansoek doen vir borg nie? Julle maak my nou mooi deurmekaar!

Dries ·

Ek vertrou die inwoners, wat die sakeman se eiendom verwoes het, en sy diere vrek gemaak het, sal hom vergoed en hom om verskoning vra. (Ek droom seker)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.