Drie in hof ná Limpopo-plaasaanval

Argieffoto: SAPD

Drie verdagtes het Dinsdag in die Bela-Bela-landdroshof verskyn nadat hulle Sondag ná ʼn plaasaanval buite die dorp in hegtenis geneem is.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder vir Limpopo, het gesê die verdagtes, Andries Ramakgoakgoa (47), Henry Bahula (42) en Steven Sibuyi (30) het in die hof verskyn op aanklagte van huisroof en poging tot moord.

Die saak is tot 5 Desember uitgestel vir verdere ondersoek. Die verdagtes gaan dan ook na verwagting om borgtog aansoek doen. Hulle bly voorlopig in aanhouding.

Maroela Media het vroeër berig die aanval het omstreeks 16:00 by die BK-boerdery in die Roodekuil-omgewing plaasgevind.

“Vyf gewapende verdagtes, en nie agt soos aanvanklik vermoed is nie, het die huis binnegestorm en drie jong mans vasgebind en beroof,” het Ngoepe gesê.

Verskeie items waaronder vuurwapens, kontant, juweliersware, rekenaars, selfone en elektriese toestelle is tydens die aanval gesteel.

“Terwyl die rooftog aan die gang was, het die slagoffer se pa dit gesien en gehardloop om tussenbeide te tree. Die verdagtes het op die vlug geslaan en die boer het hulle op die Roodekuil-grondpad agternagesit. Die verdagtes het verskeie skote op die boer afgevuur en hy het teruggeskiet. Een verdagte is gewond en twee ander is in die bosse naby die Platrivier-winkel in hegtenis geneem,” het Ngoepe gesê.

Die gewonde verdagte is onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem en is intussen ontslaan.

Volgens Ngoepe is daar tydens die inhegtenisnemings op van die gesteelde goedere beslag gelê.

Die soektog na die ander twee verdagtes duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lienkie ·

Welgedaan, bly hulle is gevang, ek hoop nie hul kry borg nie want dan sien jy die skelms nooit weer nie.

Andrea ·

Klink of die Boere bietjie meer die oorhand kry? Dankie Vader! Nou moet hul net meer tyd op die skietbaan deurbring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.