Drie in hof ná man sterf in kaping

court-hammer_thumbDrie mans het in die Bloemfontein-landdroshof in die Vrystaat verskyn in verband met ʼn kaping waartydens ʼn man doodgeskiet is en sy vriendin gewond is.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, het gesê Teboho William Mayekiso (41), Kwatala Itumeleng Imanuel (35) en Njenje Athenkosi (32) is van moord, poging tot moord en kaping aangekla. Hulle sal weer op 12 Januarie in die hof verskyn.

Volgens Mbambo het ʼn 27-jarige man en sy 25-jarige vriendin op Nuwejaarsdag in ʼn motor buite die vrou se huis gesit. Drie verdagte mans het hul motor genader waarna ʼn struweling uitgebreek het en die man vyf keer geskiet is. Hy is op die toneel dood. Sy vriendin is ook geskiet en gewond. Sy is reeds uit die hospitaal ontslaan. Die mans het met die paartjie se wit VW Polo gevlug.

Twee verdagtes is op Nuwejaarsdag in hegtenis geneem nadat die gekaapte motor in Botshabelo opgespoor is. “Die polisie het vier verdagtes in die motor gevind. Twee kon daarin slaag om te ontsnap en die ander twee is in hegtenis geneem.”

Mbambo het gesê nog twee verdagtes is Sondag in Thaba’Nchu in hegtenis geneem. Hulle het die polisie na ʼn huis in Botshabelo geneem waar hulle die vuurwapens wat glo in die uitvoering van die misdaad gebruik is, weggesteek het. Die polisie het op verskeie vuurwapens beslag gelê en ook die eienaar van die huis in hegtenis geneem. Hy moet nog in die hof verskyn.

Volgens Mbambo is die vyfde verdagte vrygelaat aangesien die polisie hom nie aan die misdaad kon verbind nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.