Drie in hof ná polisiemanne se moord op N3

Die toneel op die N3 in Modderfontein, Gauteng waartydens daar op drie polisiebeamptes geskiet is (Maart 2015) Foto: @itrafficgp, Twitter

Die toneel op die N3 in Modderfontein, Gauteng waartydens daar op drie polisiebeamptes geskiet is (Maart 2015) Foto: @itrafficgp, Twitter

Drie persone het Dinsdag in die Johannesburgse landdroshof verskyn in verband met die skietery op drie polisiebeamptes op die N3-snelweg naby die Modderfontein-afrit in Gauteng.

Volgens die klagstaat is een van die verdagtes, Nhlanhleni Nzama verlede week in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem op aanklag van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Hierdie klag hou nie verband met die skietery op die N3 nie. Nzama het saam met sy medebeskuldigdes, Vika Nzama en Sandile Nyathekazi, in die hof verskyn op twee aanklagte van moord, een van poging tot moord en een van die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Vika Nzama en Nyathekazi staan volgens die klagstaat ook tereg op ʼn aanklag van sameswering om te steel. Dit is nog nie duidelik of hierdie klag ook by Nhlanhleni se klagstaat bygevoeg gaan word nie.

Die groep was glo deel van ʼn bende van vier mans wat verlede maand op die N3 in Gauteng op polisiebeamptes losgebrand het. Die beamptes was besig op patrollie toe hulle die mans se voertuig naby die Modderfontein-afrit afgetrek het. Twee van die beamptes, konstabel Mthokoziseni Myeza en Maisha Mafokoane, is tydens die voorval dood. ʼn Derde beampte, Steven Mafanelo, is beseer. Hy het glo een van die bendelede geskiet. Die man, ʼn Zimbabwiër, is na ʼn paar dae dood in die hospitaal.

Dit is nie duidelik of die twee Nzama-mans familielede is nie, maar hulle het al twee dieselfde prokureur aangestel om hulle te verteenwoordig. Nyathekazi het sy eie prokureur.

Toe Vika Nzama en Sandile Nyathekazi verlede week vir die eerste keer in die hof verskyn het, is hul saak uitgestel vir ʼn uitkenningsparade. Die twee het verlede week in ʼn uitkenningsparade verskyn en Nhlanhleni het Maandag aan ʼn uitkenningsparade deelgeneem.

Staatsaanklaer Richard Mashobane het aangedui dat die staat nog vir een getuie wag om aan die uitkenningsparade deel te neem. Die getuie reis tans in die buiteland en sal op 24 April terug wees.

Landdros Pieter du Plessis het ingestem dat dit in die belang van geregtigheid is om die mans in aanhouding te hou totdat die uitkenningsparade afgehandel is.

Mashobane het daarna aan die hof verduidelik watter logistieke probleme die ondersoekbeampte ondervind. Hy het verduidelik dat Nhlanhleni weer na KwaZulu-Natal teruggestuur moet word, waar hy aanvanklik in hegtenis geneem is, en omdat hy in die Kranskop-landdroshof moet verskyn in ʼn afsonderlike saak.

Du Plessis het gesê die polisiebeamptes moet die nodige reëlings tref om Nzama óf na Kranskop te stuur, óf om die saak in sy afwesigheid uit te stel.

Mashobane het aan die hof gesê die staat se saak is vol gate, aangesien daar ʼn gebrek aan bewyse is, insluitend die beskuldigdes se selfoonrekords wat uitstaande is.

Du Plessis het aangevoer dat die beskuldigdes nie bloot in aanhouding kan bly omdat die ondersoek voortduur nie. Hy het die saak tot 28 April uitgestel wanneer die drie na verwagting sal aansoek doen om borgtog. Intussen word hulle by die Germiston-polisiestasie aangehou.

Die hofsaal was volgepak. Du Plessis moes ʼn paar keer mense verbied wat nie sitplek kon kry nie. Hy het gesê dit is ʼn sekuriteitsrisiko indien die persone in die hofgange sit. Dit is nie duidelik of diegene wat die hofverrigtinge bygewoon het, verwant is aan die oorlede polisiebeamptes of die beskuldigdes nie.

Bron: Naledi Shange, News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.