Drie in hof oor gesteelde kalfies

Argieffoto

Drie verdagtes, tussen 28 en 54 jaar oud, sal Maandag in die Vryburg-landdroshof in Noordwes verskyn nadat daar glo gesteelde beeste in hul besit gevind is.

Sers. Kelebogile Moleko, woordvoerder van die polisie, het gesê die drie is Vrydag in hegtenis geneem nadat gesteelde beeste in ʼn sleepwa vas aan die bakkie waarmee hulle gereis het, aangetref is.

“Die polisie het gereageer op inligting oor ʼn wit bakkie wat ʼn sleepwa vol beeste op die Devondale-grondpad sleep. Die verdagtes was glo vanaf Delareyville op pad na ʼn veiling wat elke Vrydag in Vryburg gehou word,” het Moleko gesê.

Die polisie, wat in die omgewing gepatrolleer het, het gaan ondersoek instel en die spesifieke voertuig gewaar. Die voertuig is voorgekeer en deursoek.

“Altesaam 11 Bonsmara-kalfies is agterop die sleepwa gevind en die drie insittendes van die wit Ford Ranger kon nie verduidelik waar die kalfies vandaan kom nie. Hulle is toe in hegtenis geneem en aangekla van die besit van vermoedelik gesteelde vee,” het Moleko gesê.

Die regmatige eienaar van die beeste het hulle intussen geïdentifiseer en die vee is weer aan hom oorhandig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

susan ·

Mense wat nie self boer nie is só vindingryk ongelooflik hoeveel planne hulle het om vee te verkoop

Ja ne ·

Eish vryburg veediefstaleenheid. Absolute patetiese spul. Hulle kan nie eens n verkoue vang in die koue nie.

Lizl ·

Ek is bly dat die veediewe gevang is. Boere kry genoeg swaar soos dit is, om nog deur diefstal ook deur te loop is genoeg om enige ou se moed te breek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.