Drie in hof oor miljoene se perlemoen

Foto: SAPD Limpopo

Drie persone het in die Polokwane-landdroshof verskyn nadat hulle glo betrap is toe hulle miljoene rand se perlemoen vervoer het.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die drie persone, Boitumelo Rasakanya (26), Merven Phiri (33) en Jack Kgobe (36) het Maandag in die hof verskyn. “Die saak is tot 7 Februarie uitgestel vir hul formele aansoek om borgtog terwyl die polisie se ondersoek voortduur. Hulle bly in aanhouding.”

Die verdagtes staan tereg op aanklag van die besit van ʼn bedreigde spesie.

Die drie persone is Vrydag in hegtenis geneem tydens ʼn intelligensie-operasie deur die provinsiale eenheid vir bedreigde spesies, die Polokwane-misdaadintelligensie-eenheid, die Wes-Kaapse misdaadintelligensie-eenheid, die honde-eenheid in Polokwane en die SAPD by Polokwane-lughawe.

“Beamptes het inligting ontvang oor ʼn gryskleurige Nissan-bakkie wat van Polokwane op pad is na die Beitbrug-grenspos. Daar is beslag gelê op 37 bokse perlemoen met ʼn geraamde waarde van ongeer R7 miljoen.”

Die oorsprong en bestemming van die perlemoen vorm deel van die ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cherokee ·

Ek het nie naastenby ‘n idee hoe lank perlemoen buite die water kan leef nie en dan duik die vraag op of die betrokke amptenare na beslaglegging ooit die moeite doen om dit terug in die water te plaas, indien herwinning moontlik sou wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.