Drie in hof oor moord op oud-polisiehoof se vrou

(Argieffoto)

ʼn Beweerde liefdesdriehoek het moontlik gelei tot die moord op die vrou en skoondogter van die voormalige Oos-Kaapse polisiehoof, Wilson Toba (55).

Boniswa Alinah Toba (74) en Cingiswa Caroline Mila (41) is op 12 April in hul huis in Peddie vermoor en Lwando Elvis Lengisi (32) word daarvan aangekla dat hy en nog ʼn verdagte die huis binnegegaan het, Toba en Mila vasgebind het en hulle doodgesteek het.

Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê die tweede vermeende betrokkene is nog op vrye voet. Die twee het glo selfone en kontant uit die huis gesteel en gevlug.

Die moorde is glo in opdrag van Nomvula Issaballa Zodwa (57), ʼn voormalige polisiekaptein, gepleeg. Zodwa was glo in ʼn romantiese verhouding met die voormalige kommissaris toe sy Thamsanqa Hlamandana (32), ʼn sangoma van Port Elizabeth, gevra het om sy vrou te toor. Dié het glo voorgestel dat sy eerder twee mans huur om Mila te vermoor.

Zodwa, Hlamandana en Lengisi is later dieselfde maand in hegtenis geneem op twee aanklagte elk van moord, sameswering om moord te pleeg en roof met verswarende omstandighede, het die NVG gesê. Hulle het Maandag in die Peddie-landdroshof verskyn waar die staat hul aansoek om borgtog teengestaan het.

Die staat voer aan die moorde was beplan, is uitgevoer deur ʼn groep mense met ʼn gemeenskaplike doel en dat die slagoffers wreed aangeval is. Adv. Mzukisi Mapuma, die staatsaanklaer, sê ook daar is geen buitengewone omstandighede wat hul vrylating op borgtog regverdig nie.

Die borgtogaansoek word Woensdag hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.