Drie in hof oor moord op sakeman

Argieffoto

Argieffoto

Die drie vermeende moordenaars van Cornelius (Joe) Herholdt (66) wat in sy huis in Greytown, KwaZulu-Natal aangekeer is nadat hulle hom vasgebind en doodgesteek het, het Woensdag in die Pietermaritzburg-hooggeregshof verskyn.

Herholdt is op 18 Februarie in sy huis aangeval. ‘n Privaat veiligheidsmaatskappy is ontbied nadat ‘n buurman die huishulp se gille gehoor het. Die hof het gehoor veiligheidswagte het twee van die beskuldigdes betrap waar hulle onder beddens weggekruip het. ‘n Derde verdagte het agter ʼn kas weggekruip. Die veiligheidswagte het die beskuldigdes in hegtenis geneem en aan die polisie oorgegee.

Die drie beskuldigdes Sifiso Phungula (19), Lungisani Zungu (18) en Lindakuhle Mbhese (20) het onskuldig gepleit op die aanklagte moord en roof. Regter Rishi Seegobin het die drie beskuldigdes gewaarsku dat hulle lewenslange tronkstraf opgelê kan word indien hulle skuldig bevind word aan die moord en 15 jaar tronkstraf op die aanklag van roof met verswarende omstandighede.

Volgens die akte van beskuldiging het Zungu, wat voorheen vir Herholdt gewerk het, en sy twee medebeskuldigdes in Februarie vanjaar werk gesoek in die Greytown-area. Zungu het glo aan sy medebeskuldigdes gesê Herholdt het baie geld en dat hulle hom moet beroof.

Die beskuldigdes is met ʼn skroewedraaier en mes na Herholdt se huis. Hulle het hom vasgebind en geld geëis. Hulle het hom glo doodgesteek nadat hulle nie geld by hom kon kry nie.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.